Home / Archives / Music Archives / Xander Joubert: Aardbewing

Xander Joubert: Aardbewing

Xander Joubert veroorsaak ‘n opskudding met eerste pop-enkelsnit!

Draai jou radio harder, want Xander Joubert se eerste enkelsnit, Aardbewing, is beslis nie iets wat jy wil mis nie. Die liedjie is pas vrygestel en reg om die radiogolwe oor te neem. Dit spog met ’n verfrissende nuwe popklank, waaroor luisteraars gaan mal wees en wat nog lank gaan koning kraai op die dansvloer.

Dié splinternuwe sangsensasie se lekkerluister-popstem is die perfekte pasmaat vir hierdie polsende goedvoeltreffer uit Werner Beukes se pen. Aardbewing is ’n interessante popverwerking, met ’n moderne sokkiedans-aanslag, wat gaan oor verliefwees en al die emosies en opwinding wat daarmee saamgaan. Die snit se opgewekte wysie sal nie net jou voete laat jeuk om te dans nie, maar is ook een van daardie liedjies wat in jou kop bly vassteek – lank nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het.

’n Musiekvideo van die treffer, wat deur bekroonde filmmaker Gerhard van Rooyen vervaardig is, is op verskeie plekke in en rondom Pretoria verfilm.

Xander is passievol oor musiek en werk al vir die afgelope sewe jaar hard daaraan om sy droom te verwesenlik. Sy sangtalent is reeds op hoëskool ontdek, toe ’n juffrou hom Die Volkslied hoor sing het en genooi het om deel te neem aan ’n kompetisie, waarin hy baie goed gevaar het. Dit is ook hier waar die musiekgogga hom behoorlik gebyt het. Daarna het hy besluit om vir stemafrigting te gaan en het hy verskeie ander kompetisies gewen, wat vir hom – na skool – ’n kontrak by Majorca losgeslaan het wat hy ongelukkig nie kon aanvaar nie.

Alhoewel hy ’n wye verskeidenheid musiek geniet, het hy groot bewondering vir kunstenaars soos Steve Hofmeyr en Elvis Blue. Hy luister ook graag na oorsese musikante soos Keith Urban, Florida Georgia Line, Sam Smith, ZAYN, Josh Groban, Michael Buble, Sia en Little Mix. 

As hy nie ’n musikant was nie, sou hy graag wou boer of ’n eetplek oopmaak om sy vaardighede agter die kospotte ten toon te stel. Maar vir nou is sing sy grootste fokus en werk hy hard aan sy debuut-album, wat heel moontlik gaan spog met tien oorspronklike Afrikaanse en vier Engelse snitte, wat vir later vanjaar beplan word. Hy besit ook sy eie onafhanklike platemaatskappy, XJ Records, en wil in 2019 graag nuwe kunstenaars onder sy vlerk neem. Verder droom hy ook daarvan om eendag sy werk met internasionale gehore te deel.

Xander glo dat musiek baie kan verklap oor wie jy is… en hy beplan om seker te maak dat syne vir hom ’n gerespekteerde plek in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf vestig. Aardbewing gaan nie net ’n treffer op die dansbaan en treffersparades wees nie, maar is ook die begin van ’n baie belowende musiekloopbaan vir hierdie talentvolle kunstenaar.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*

code

Scroll To Top