Home / All Highlights / Kwarantyn op kykNET

Kwarantyn op kykNET

kykNET en Kwarantyn maak geskiedenis.

Twee gesinne. Twee huise. Agt weke kwarantyn. ‘n Reuse R250 000 op die spel.

kykNET, DStv-kanaal 144, se splinternuwe realiteitsreeks, Kwarantyn, het afgeskop en só geskiedenis vir die kanaal gemaak: ‘n eerste opwipkanaal in die geskiedenis van kykNET wat aan een program gewy gaan word.

Met ‘n pittige Ferdinand Rabie, wenner van die eerste Big Brother South Africa, as ‘Die Opsigter’ wat ‘n kykie agter die skerms gegee het asook ‘n ontmoeting met die twee families – #SpanLeRoux en #SpanScheepers – het kykers gesien wat die volgende 50 dae verwag kan word. Werkers het nog geskarrel om die huise reg te kry, maar een ding wat nie misgekyk kon word nie, was die rits kameras in amper al die kamers wat die twee families se doen en late gaan volg.

Dit was duidelik dat die vervaardigers dit nie vir die deelnemers maklik gaan maak nie en daar is verduidelik dat kykers die hef in die hand gaan hê. As die families aan die einde die prysgeld wil wen, gaan hulle die kykers se harte moet wen. Die deelnemers het ook vir hulself doelwitte gestel het – van gewig verloor tot spiere bou, ‘n nuwe taal leer of vir die hele tyd geen alkohol drink nie.

Met die families se intrapslag in die twee huise is dinge dadelik deurmekaar gegooi toe Die Opsigter gesê het hulle moet huise ruil. Hulle kon ook nie self besluit wie waar slaap nie – daarvoor was daar ‘n plan wat deur die vervaardigers uitgewerk is.

In die aanvangsepisode is daar na DStv-kanaal 149 oorgeskakel waar die lief en leed – elke minuut daarvan regstreeks vir almal om te sien gevolg gaan word. Laat die sports begin!

Om uit te vind hoe die stemproses werk, gaan na: https://kyknet.dstv.com/program/kwarantyn/nuus/kwarantyn-verdien-jou-stem-en-dis-maklik/nuus 

Kwarantyn sal vanaf Woensdag 10 Junie om 21:00 elke dag en heeldag op kykNET se nuutste opwipkanaal, DStv-kanaal 149, uitgesaai word.

Maandae tot Saterdae sal daar daagliks om 17:00 ’n 24 minuut lange hoogtepunteprogram (behalwe Woensdae is dit ‘n 48 minuut lange program om 20:00) op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai word.

Bly ook op hoogte van al die gebeure by https://kyknet.dstv.com/show/kwarantyn.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*

code

Scroll To Top