Home / Reviews / Music Reviews / Joshua na Die Reën: Someraarde

Joshua na Die Reën: Someraarde

Joshua na die Reën en Liani Reynolds stel albums op besondere wyse bekend.

Deur Christa Steyn

Op 12 April 2019 is die verhoog van die Afrikaans Hoër Seunsskool in ‘n visuele wonderwêreld omskep, toe Joshua na die Reën, oftewel Jacques de Villiers en Liani Reynolds gesamentlik hulle nuwe albums vrygestel het. Sommer met die intrapslag is die gevoel geskep dat gehoorlede ‘n besondere aand te wagte kan wees: van ‘n persiese mat en bome wat strategies oor die verhoog versprei is, tot ‘n kamma-maan en asemrowende natuurfoto’s wat met behulp van projeksies teen die agtergrond gepryk het. En met dié uitbeelding word beide kunstenaars se ingesteldheid op die fynere detail bevestig.

Joshua na die Reën het by hierdie geleentheid amptelik sy derde ateljee-album, Someraarde, vrygestel. Oor die titelsnit, wat hy vir sy broer, Pierre, geskryf het, vertel hy soos volg, “Vandat ek kan onthou, was sy hoop vir die wêreld dat almal genoeg sal hê om van te leef en dat daar vrede sal wees. Dat mense hulle volle potensiaal sal ontdek.” Verder het hy vertel: “Ek het besef dat jy daardie plek net binne jouself kan vind, en as dit ’n naam gehad het, sou myne Someraarde gewees het”.

Buiten vir hierdie herinnering van sy broer het hy ook ander staaltjies en stories agter sy lirieke gedeel, onder andere dat Sterrenet deur die sterrehemel geïnspireer is, wat hy een aand tydens ʼn besoek aan die Etoshapanne ervaar het. Oor Branders het hy nogal geskerts oor die mens se geneigdheid om te ‘leef vir Desembers by die see of op die strand’.

Wat Joshua na die Reën so ‘n merkwaardige kunstenaar maak is sy absolute nederigheid en plat-op-die-aarde manier van ‘wees’. Dit word nie net in sy lirieke weerspieël nie, maar ook in die liefde teenoor sy medemens. Buiten vir ‘n orkes en mede-musikante, het hy ook die bekendstelling met Liani Reynolds, ‘n nuweling in die bedryf, gedeel.

Danksy Joshua na die Reën, wat vir Liani onder sy vlerk ingeneem het en haar album verwerk en vervaardig het, kon sy haar nuwe album, Ligsoom, vrystel. Joshua na die Reën beskryf Liani Reynolds se stem as ryk en kleurvol: “Die hoekies en draaitjies daarin help die prentjies skets wat sy ook in haar lirieke beskryf”. Beide kunstenaars pluk inspirasie uit alledaagse gebeure en omskep dit dan in die mooiste klankportrette. Hulle duet, Vlieërs, is ‘n metaforiese verwysing na menseverhoudings, en is juis ‘n weerspieëling van beide se vernuf as liriekskrywers.

Liani se album, Ligsoom, is ‘n musikale kunswerk. Oor haar eerste enkelsnitvrystelling, Mossie, vertel sy:
Mossie gaan oor iemand wat op die agtergrond of op ’n onsienlike plekkie leef ter wille van iemand anders, sodat hulle die beste deel kan hê en wees wie hulle moet wees. Dit is ’n verhaal oor opoffering en naasteliefde”. Liani het ook die inspirasie agter ander liedjies gedeel, soos dat sy as kind eerder saam met haar pa op hulle Karoo-plaas gewerskaf het, as om in die kombuis te moes uithelp, herinneringe van kleintydvakansies in haar pa se ‘onmisbare’ Ford-bakkie en ook selfs die verlies van ʼn geliefde wat vir haar soos ʼn pa-figuur was.

Sedert die vrystelling van Joshua na die Reën se eerste album in 2014 het hy al diep spore in die Afrikaanse musiekbedryf getrap met sy sielvolle lirieke en fluweelstem, en Liani mag dalk ‘n nuweling op die musiekfront wees, maar met haar diep, harmonieuse stem sal sy haarself binnekort ook in vele musiekliefhebbers se harte tuismaak.

Joshua na die Reën se nuwe album, Someraarde, is op die 12de April op alle digitale platforms vrygestel en het oor daardie naweek die Nommer 1 posisie op die SA iTunes Trefferparade vir verkope ingeneem. Liani Reynolds se album, Ligsoom, sal ook binnekort op digitale platforms beskikbaar wees.

 

Christa Steyn is an Academic in the world of South Africa’s Entertainment Industry, and a true friend of Stage and Screen.  You can read Christa’s work at www.flieksioneel.co.za.

This review was voluntarily done by her, and acted purely as a trusted contributor to Stage and Screen. The views depicted in this review, are that of the contributor, but edited and published according to the established identity and standards of the publication. We thank Christa for the contribution, and hope for many more collaborations to come.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*

code

Scroll To Top