Home / Reviews / Music Reviews / Lizandra Winter

Lizandra Winter

Omvou in ‘n Winter Wonderland van Loutere Luistergenot

deur Jaco Lotriet

Sommige aspekte van die Afrikaande musiekbefryf het die laaste paar dekades ‘n afwaartse neiging vanuit ‘n produksie, en musikale oogpunt beleef, wat gekenmerk word deur oorweldigende vier-maat ritmes, lirieke wat skrams en herhalend in die snitte beperk word, asook die menige danstemas wat nietemin enorme aanklank by die luister publiek gevind het. Ter verduideliking, die diepte van ‘n Koos du Plessis produksie, waarmee mens kon vereenselwig met beide musiek en liriek, het ‘n skaarste in ons taal se musiekbedryf geword.

Ten spyte hiervan, beleef Afrikaanse musiek egter ‘n bloeitydperk in hedendaagse tye en daarmee tesame ‘n welkome terugkeer na merkbare behartigenswaardige inhoud. Saam met onlangse vrystellings soos Len Muller, Stella, asook Joshua na die Reën, is Lizandra Winter nog ‘n skynende voorbeeld van ‘n voortreflike musikant wat tans sό ‘n professionele aanslag voer. Haar houding tydens die bekendstelling van haar gelyknamige debuut album onlangs in Pretoria, spreek boekdele wat getuig van haar vreeslose karakter en uitsonderlike selfvertroue. Hierdie eienskappe van haar persoonlikheid voel amper tasbaar vanuit ‘n emosionele oogpunt, wat eweweens in haar komposisies weerspieël word.

Met aanvang van die verrigtinge by haar album bekendstelling, het Jacques de Villiers, of Joshua na die Reën soos ons hom ken, die musikale toon gestel met sy vlytige klaviervernuf, wat sodoende die weg gebaan het vir Lizandra Winter se verskyning. Verskeie wentelinge in Lizandra Winter se musiekloopbaan tot op hede, het gelei tot haar eie solo projek.

Die album bestaan uit dertien keursnitte wat ‘n wye spektrum genre insluit. Die verbeeldingsryke milleu van hierdie album word geskets met rock, pop, asook ‘n paar emosiebelaaide ballades wat die luisteraar ontvoer na plekke wat ongetwyfeld introspeksie ontlok. Moenie verras wees as jy tydens hierdie reis van vereenselwing en selfontdekking begin saam sing nie. Die mezzo-sopraan se register dek vele oktawe. Haar vokale meetgreens strek van ‘n fluweelsagte alto stem, wat met ‘n crescendo tot suiwer, moeitelose klanke, as verstommend beskryf kan word.

Die openingslied Geraas voel so in pas met die stemming van die die album in sy geheel – ‘n sodanige huldiging aan musiek se plofbare krag om die swaarkry van die alledaagse lewe te vergemaklik. Met ‘n sterk orkestriële en klassieke aanslag, is hierdie snit verwerk deur haar man, Ryhno von Hagen. Winter Kom, sinspeel daarop dat selfs die koue van die winter seisoen van die lewe ook ‘n positiewe ligpunt het.

Met Die Begin kondig Lizandra aan ‘Hier is ek, Wêreld!’ Die koor gedeelte bevat ‘n besonderse melodiese goedvoel kinkel, geondersteun deur ‘n lekker rock ritme wat die luisteraar laat voel of tyd werklik stilstaan, soos die lirieke aanvoer. Verder verdien Fluister erkenning as deel van die Afrikaanse film en lokettreffer, Vir Altyd – ‘n treffende pop-rock liedjie wat daaroor handel dat ‘n mens so vasgevang word in die gejaag van die lewe, dat jy vergeet wat regtig belangrik is.

‘n Spesiale duet met Joshua na die Reën, op wyle Christa Steyn se Ek Wil Vir Jou, beloof om selfs die kritieste oor te beïndruk. My nuuskierigheid het nog altyd die oorhand gekry deurdat ek daarvan hou om te weet watse invloede, musikante se eie musiek inspireer. In hierdie lig, tydens die vrystelling van haar album, het Winter ‘n roerende weergawe van Bruce Springsteen se Dancing in the Dark opgevoer. Met enkele kitaarbegeleiding, het die woorde van die outydse treffer opnuut die gehoor laat regop sit om notisie te neem van die opregte teerheid vasgevang in die lirieke.

‘n Album van hierdie kaliber verg besonderse dissipline, insig en deursettingsvermoeëns. Met behulp van ‘n span uitstekende musikante, vervaardigers en verwerkers, het Winter se droom om mense met haar fluweelsagte stem en inspirerende komposisies aan te raak, gewis verwesenlik. Sy noem dat as haar musiek luisteraars kan help om met nuwe oë na hulself en die lewe te kyk, sodat hulle weer opnuut besef waaroor dit alles eintlik gaan, dan het die album en haar musiek bereik wat dit moet. Ek kan ontoesêglik noem dat indien dít die stof is waarvan drome gemaak word, sal Lizandra Winter nog tot groter hoogtes styg in haar musikale loopbaan vorentoe en allermins nie teleurstel nie…

Luister na Fluister hier:

Comments are closed.

Scroll To Top