Home / Archives / Big Screen Archives / Hoener Met Die Rooi Skoene

Hoener Met Die Rooi Skoene

Koos Roets se Nuwe Film – Iets heeltemal anders

Dis nie ‘n kinderstorie of ‘n feëverhaal nie.  Ook nie ‘n drama nie.  Nee, die nuwe fliek, Hoener Met Die Rooi Skoene, is ‘n riller-komedie deur die bekende filmmaker, Koos Roets.  En hy gaan kykers laat regopsit, ril en skater van die lag.

Lizz Meiring wat die rol van Bonnie van der Byl, vertolk sê: Die karakters is uniek en Hoener Met Die Rooi Skoene, is oorspronklik en magies.  Net so fassinerend en eksentriek soos die onontdekte, juweel dorpie waar ons verfilm het- Klaarstroom, weggesteek in die hart van die Klein Karoo.”

Die spelers van Hoener met die rooi Skoene op stel

Die spelers van Hoener met die rooi Skoene op stel

Bonnie is ‘n ontvangsdame van die internasionaal bekende De Waal Teateragentskap. Terwyl sy een aand weer lustig voorklets op die foon, vermoor iemand haar baas, die suksesvolle, maar minder gewilde sakeman en impresario Du Toit de Waal (Deon Lotz).

Sy tref hom aan met ‘n dolk in sy rug op die kantoortafel agter haar en skakel dan die polisie.  Maar by nadere aanskoue van die bloeiende baas, word sy oudergewoonte flou.  As sy met die flitslig van Konstabel Mickey Mentz (André Weideman) in haar oë bykom, is die lyk skielik skoonveld …

Hiermee is die tafel gedek vir ‘n spannende skreeusnaakse riller-komedie vol verrassende kinkels waarin die ontvangsdame met haar bekkige papegaai Napoleon en die hoogs beneukte, geïrriteerde en grieperige speurder Kaptein Hendrik Greyling (Louw Venter), sentraal staan.

Lida Botha maak 'n buiging in Hoener met die Rooi Skoene

Lida Botha

Tydens die ondervragingsessie na die moord, word al die interessante karakters op kantoor in ‘n klousterfobiese ruimte saamgegooi.  En dis dan wanneer allerhande interessante  geheimpies ontbloot  word…

Soos dat Cecilia de Waal (Dorette Potgieter) die aantreklike veel jonger vrou van die baas, meer as een skelmpie het en die ouer privaat-sekretaresse, Miss Enith Conradie (Lida Botha) is al jarelank verlief op die baas. Daar is ook die ligsinnige Roxie Roos (Laré Birk), die baas se minder gewillige pretpoppie.  Die sjarmante Percy Celliers (Geon Nel) doen nie sy werk nie en die ouer klerk Harold Berrington-Smith (Flip Theron) is ‘n ‘tail gunner’.

En midde in dié storm van verdagmakery en beledigings verskyn die baas se ‘lyk’ dan weer skielik perdfris en gesond op die toneel .

“Dis nie ‘n fliek wat vir mense lewenslesse moet leer nie. Ek het hierdie fliek gemaak met een doel voor oë – om mense te vermaak. Daar is genoeg nonsens in ons land waaroor almal hulle kwel. Mense moet ook net ‘n bietjie kan terugsit, ontspan en lekker lag. Dis nou wanneer jy nie te veel skrik vir die moordenaar nie,” skerts Koos.

Maar hy waarsku: “Dis nie ‘n tipiese slapstick komedie nie. Niemand gooi iemand anders met ‘n pastei nie. Die humor en snaakse insidente is toevallig. En die karakters eg – mense wat werklik kan bestaan.”

Sy laaste fliek was die gewilde, ‘’n Pawpaw Vir My Darling”.

Hoener Met Die Rooi Skoene  sluit ook die verskyning van gasspelers soos Anton Goosen, Leon Ecroignard, Soli Philander en Goitsemang Lehbyeword in en word op  27 Januarie 2017 landswyd vrygestel en versprei deur Ster Kinekor Entertainment.

Comments are closed.

Scroll To Top