Home / Archives / Music Archives / Emil Paul: Elke Noot

Emil Paul: Elke Noot

Nuwe Kunstenaar klim met Elke Noot op die Musiektoneel.

Eersdaags stel Emil Paul, super talentvolle jong kunstenaar, sy eerste enkelsnit, getiteld, Elke Noot, vry. Die genre kan beskryf word as ‘n mengsel van pop en folk en is ‘n nuwe, vars styl van Afrikaanse musiek. Emil hoop dat mense sommer van die eerste noot van sy enkelsnit af sal wil dans. Hy hoop ook dat hulle die dieper betekenis sal hoor in sy lirieke en dat dit iets vir iemand sal beteken.

Hopenlik put hul inspirasie uit die lirieke wat geskryf is deur Emil, wat hom ‘n volronde kunstenaar maak met baie om te bied. Nie net skryf Emil graag sy eie liedjies nie, maar hy lewer ook insae in die vervaardiging daarvan. Hy is ook ‘n kranige musikant in eie reg en bespeel ‘n groot verskeidenheid instrumente soos klavier, ukulele, verskeie blokfluite, piccolo, trompet en kitaar.

Die musiekvideo is geskiet by Rosemary Hill, net buite Pretoria en word saam met die enkelsnit vrygestel. Emil wou nie net ‘n gewone musiekvideo met ‘n storielyn hê nie, maar iets eenvoudig waar daar iets moois is om na te kyk terwyl die lirieke die storie vertel. Dit is vervaardig deur die uitstekende Luther van der Watt van AVC Studios. Die musiekvideo gaan oor ‘n meisie wat die “trail” van note volg wat deur Emil en sy Ukulele gelos word vir haar om te vind. Dit bewys die hele idee van liefde wat blind is omdat sy betower word deur die note en musiek. Sy wil dit volg, alhoewel sy nog nie eers weet hoe die persoon lyk wat die note vir haar daar los, of wie hy is nie.

Emil vertel dat solank as wat hy kan onthou, is hy versot op musiek. Op 7-jarige ouderdom het hy begin klavierlesse neem en in kore gesing. “Die hoogtepunt tot dusver was toe ek in myself begin glo het as solokunstenaar en nie net as iemand wat in die agtergrond begelei nie. Omdat ek soveel jare net in kore gesing het, het ek eers in myself begin glo toe iemand in my begin glo het. Dus het my sololoopbaan eers sowat twee jaar gelede afgeskop.” Hy swot ook ‘n BMus graad by die Universiteit van Pretoria en daarna gaan hy sy honneurs in Musiek tegnologie doen.

Comments are closed.

Scroll To Top