Home / Archives / Music Archives / Almarie du Preez: Jy Vir My

Almarie du Preez: Jy Vir My

Debuut sanger reik nuwe enkelsnit uit.

Almarie du Preez, met haar strelende fluweelstem, het beslis geen bekendstelling nodig in musiek- of vermaakkringe nie. Dié voormalige JAM-aanbieder het oor die afgelope sewe jaar nie net naam gemaak as sangeres, liedjieskrywer, omroeper en verhoogkunstenaar nie, maar ook as aktrise, skrywer en TV-aanbieder.

Haar eerste Afrikaanse enkelsnit, Jy Vir My, is pas vrygestel. Dit is ’n lekkerluister-poptreffer met betekenisvolle lirieke en ’n meesleurende wysie, wat die luisteraar vir lank sal bybly. “Die liedjie gaan oor die ontdekking van ewigdurende liefde. Dit gee hoop dat die mooiste ontmoetings opgesluit lê in daardie oomblikke, waar jy nie soek nie, en dit jou bly vind. Dit gaan ook daaroor dat dit soms tyd neem om te besef dat ’n persoon alles is waarna jou hart smag en selfs al werk dinge nie uit nie, dans die mooi van die herinneringe voort. Ek dink elke persoon hunker na ware liefde en of jy steeds soekend is, of reeds daardie persoon het, gaan Jy Vir My almal nostalgies laat,” vertel sy.

Almarie is al van kleins af versot op musiek en is deur haar ouers blootgestel aan legendes soos Laurika Rauch, Roy Orbison, Koos du Plessis en Queen. Sy het ook gereeld na treffersparades oor die radio geluister en daarvan gedroom om eendag deel van ’n rockgroep te wees. Hierdie droom is jare later verwesenlik, toe sy die voorsanger geword het van die groep, Friday & The Hype. Hierdie talentvolle ster het reeds op skool begin instrumente speel en spog met Graad 8-musiekgradering van Unisa in Klavier, meestersgraad in Musiekterapie en het ook formele sangopleiding gehad.

Alhoewel sy haar hele lewe lank doenig is met musiek, het haar loopbaan eers regtig in 2010 vlamgevat, nadat sy ’n akoestiese weergawe van die Straatligkinderstreffer, Kan Ek Met Jou Dans, gedoen het wat baie positief ontvang is en steeds lugtyd kry oor die radio en op die kassie. Sedertdien het sy al saam met baie gesoute sangers, soos Bouwer Bosch, Robbie Wessels en STELLA, gesing en was selfs mede-skrywers vir musiek wat in flieks soos Mooirivier en Strikdas gebruik is. Sy beskou die solo-verhoogproduksie, Almarie Vir Altyd, wat sy in 2013 by Atterbury Theatre gedoen het, asook haar rol as aanbieder van JAM op kykNET NOU!, as van die hoogtepunte van haar loopbaan. Rolle in programme soos Binnelanders en Generations, asook in die fliek, The Roar (saam met Heinz Winckler) en ’n gereelde radioprogram op Radio Kansel het haar plek in die vermaaklikheidsbedryf verder verstewig. Sy is ook al vir jare lank aanbiddingsleier by Moreletapark Gemeente in Pretoria.

Almarie het nog baie musiekdrome om te verwesenlik, wat ’n nuwe album – waaroor sy nie nou te veel wil verklap nie – insluit. Sy sal ook nog graag saam met Francois van Coke wil werk, omdat die eerlikheid in sy lirieke haar inspireer en hulle stemme goed sal saamwerk. “Ek bewonder elke musikant wat hard werk en musiek maak wat strook met wie hulle is. My plan is om al my ervarings en denke in nuwe musiek te omskep, wat luisteraars sal aanraak en hoop gee. Ek wil graag hê dat my musiek mense moet aanmoedig om ’n bietjie dieper te gaan delf oor die betekenis van hul eie lewens,” deel dié talentvolle kunstenaar.

Jy Vir My is beslis ’n moet vir elke liefdesliedjieaanhanger se speellys. Die kombinasie van storieboekmooi-lirieke, ’n treffende deuntjie en ’n uitsonderlike stem, is die perfekte bestanddele vir ’n treffer wat oor baie jare steeds gaan voortleef.

Comments are closed.

Scroll To Top