Home / Archives / Other Archives / RSG en Lefra Produksies se Oppiwater Kunstefees Uitgestel

RSG en Lefra Produksies se Oppiwater Kunstefees Uitgestel

RSG, Lefra Produksies en MSC Cruises het so pas aangekondig dat die Oppiwater Kunstefees wat van 5 tot 10 April 2020 op die MSC Orchestra aangebied sou word, nou uitgestel is tot 25-30 Januarie 2021.  Die uitstel van die gewilde Oppiwater Kunstefees is geneem in die lig van President Cyril Ramaphosa se aankondiging oor die noodmaatreëls wat ingestel moes word om die Coronavirus te bekamp.

Dieselfde tipe vaart sal aangebied word wat van Kaapstad vertrek en Namibië se mooie Lüderitz en Walvisbaai besoek. Frans Swart, Feesdirekteur van die Oppiwater Kunstefees,  sê dit was vir Lefra, RSG en MSC Cruises belangrik om presies dieselfde tipe vaart aan te bied as waarvoor feesgangers bespreek het.”

Feesgangers wat vir die Oppiwater Kunstefees bespreek het, se besprekings sal outomaties oorgedra word na die 25-30 Januarie 2021 vaart aanboord die nuwe en mooie MSC Musica.  MSC se aankondiging oor koopbewyse vir ander gekanselleerde vaarte sal nie vir die Oppiwater Kunstefees geld nie, aangesien die Oppiwater Kunstefees ‘n spesifieke temavaart is.  MSC het wel aangekondig dat alle passassiers ‘n $50 koopbewys per kajuit sal ontvang om op die MSC Musica te spandeer.

Swart sê dat hulle tans in onderhandelings is met al die kunstenaars en teaterproduksies en gaan poog om dieselfde produksies en kunstenaars aan te bied as wat vir die huidige Oppiwater Kunstefees beplan was.  “Ons as organiseerders en kunstenaars is natuurlik almal baie teleurgesteld dat ons nie die April Oppiwater kon aanbied nie.  Maar niks kry die kunste onder nie – selfs nie Covid-19 nie,” sê Swart.  “Dit was die regte ding om te doen, want ons het baie navrae van ons feesgangers gekry om uit te stel.  Die veiligheid van ons passassiers, kunstenaars en personeel was nog altyd totaal prioriteit vir ons.”  Die nuwe program sal eersdaags bekend gemaak word en sal ook met alle Feesgangers gekommunikeer word.  Kaartjies vir Produksies wat by Computicket bespreek is,  sal so ver as moontlik oorgedra word.

Vir die nuutste inligting oor Oppiwater, gaan gerus na www.oppiwater.co.za Vir enige navrae oor die kajuitbesprekings, skakel gerus 087 630 0333.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*

code

Scroll To Top