Home / Archives / Music Archives / PJ Pretorius: 12 Uit 10

PJ Pretorius: 12 Uit 10

Stêr van The Voice Season 2, reik eerste enkelsnit uit.

Die sanger PJ Pretorius, wat naam gemaak het tydens die tweede seisoen van die gewilde M-Net sangkompetisie, The Voice SA, het pas sy eerste enkelsnit uitgereik en beloof om iets beter te wees as wat verwag word.

Dié pop-rock liefdesliedjie, wat 12 uit 10 heet, is uit die pen van Renier Bester en gaan oor ’n jongman wat dol is oor ’n meisie wat nie in haarself glo nie en dit sy doel maak om haar te laat besef dat sy eintlik beter as die norm is vir hom.  Die sanger vertel dat daar soveel juweel-mense daar buite is wat net nie glo dat hulle goed genoeg is nie. Dit is ’n bog storie, want vir elkeen is daar ’n maat wat glo en voel dat hulle die beste en mooiste is…

Pretorius sê dat hy juis op die liedjie besluit het omdat hy ’n boodskap tuis wil bring by mense, dat elkeen goed genoeg is en dat almal iets werd is.

Lees ons onderhoud met PJ tydens sy tyd op The Voice hier

Hy deel mee dat hy dink die publiek gaan dit geniet en maklik daarmee sal kan vereenselwig, juis omdat elkeen van ons maar met ons ‘insecurities’ loop.

Die liedjie, wat nie net ’n mooi boodskap, maar ook ’n lekker wysie het, sal sommer gou in jou kop kom vassteek en volgens PJ, wil hy hê dat die luisteraar lekker, gemotiveerd en geïnspireerd voel.

’n Musiekvideo vir die liedjie, wat deur Luther van der Watt van AVC Studios opgeneem gaan word, is ook in die pyplyn, maar hieroor wil PJ nie veel meer verklap nie.

27 Jarige PJ Pretorius, van Secunda, se liefde vir musiek het by die huis ontstaan waar hy gereeld saam met sy ma en suster gesing het.  In 2013 het hy as bedieningsleier by die kerk aangesluit en is vir die afgelope drie jaar aktief in die musiekbedryf betrokke.

Die sanger som sy stem en styl op as uniek met diepte en vertel dat hy nie oor iets spesefiek skryf nie, eerder oor iets wat sy hart roer. “Ek is ’n softy vir ballads, enige iets wat jou hart roer.  Dieselfde kunstenaars wat my inspireer, se werk het maar ’n invloed gehad op my musiek,” sê hy.

Kunstenaars soos Elvis Blue, Jesse Jay en Riana Nel inspireer hom en hy sal graag eendag saam hulle wil werk.  Sou musiek egter nie vir hom beskore gewees het nie, sou hy graag ’n sjef wou wees en vertel dat dit baie ontspannend is en jy kry ook kans om iets te skep. Natuurlik is PJ ook lief vir lekker eet…

En wat weet sy aanhangers nie van hom nie? PJ skerts hy het nie ’n gunsteling kleur nie; dit wissel gedurig. Hy is eintlik ook ’n introvert en het ’n fobie vir te min mense.  Verder vertel hy dat hy meer in homself moet glo.  PJ sonder ook sy tyd uit in die topses van The Voice SA seisoen 2, asook sy album, as die grootste hoogtepunte in sy loopbaan tot dusver.

Behalwe vir ’n eerste enkelsnit, kan aanhangers van PJ ook gereed maak vir ’n album. “Ek is besig met my album wat vroeg volgende jaar vrygestel gaan word en alles daar rondom.  Verder probeer ek ook soveel as moontlik van my aanhangers gelukkig hou, deur by soveel as moontlik plekke op te tree,” sluit hy af.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*

code

Scroll To Top