Home / Archives / Concert Archives / Musiek Soos Grond

Musiek Soos Grond

Nuwe platform in Afrikaanse Musiek gaan groot opslae maak.

Villa Avianto in Bloemfontein en The Big Red Barn te Pretoria, gaan binnekort die tuistes wees van twee baie unieke en betowerende musiek konserte, wat beloof om die mees aangrypende musiek en van die beste talent in Suid-Afrika ten toon te stel!

Musiek soos Grond is die heel eerste van sy soort in die land en gaan sorg vir ’n musiekervaring wat jy beslis nie wil misloop nie. Dié twee konserte is daarop gemik om vir kontemporêre kunstenaars ’n platform te gee om hulle hoendervleis – mooi lirieke, lewensverhale en veelsydigheid op die verhoog met gehore te deel.

Musiek soos Grond se Besturende Direkteur, Rupert van Vuuren noem dat die idee om ‘n platform vir onafhanklike Afrikaanse kunstenaars te skep, waar hul unieke musiek en woorde ten toon gestel kan word, al ‘n paar jaar broei in sy hart. Van Vuuren verduidelik verder dat toe Joshua na die Reën vir hom vra om saam met hom hierdie platform te skep, hy nie vinnig genoeg kon ja sê nie en dat vir hom ‘n voorreg gaan wees om die pad saam met ‘n dinamiese groep kunstenaars te kan stap. Verder gaan elke Musiek soos Grond aand uniek, kosbaar en onvergeetlik wees!

Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, Len Muller, Leon Gropp, Lizandra Winter en Liani Reynolds gaan almal die verhoog deel en nie net hulle eie verwerkings opvoer nie, maar ook saam musiek maak en mekaar begelei.

Joshua na die Reën, wat die musiekproduksie gaan behartig, verklap hy het eendag besef dat mense in die gehoor by konserte soos grond is, waarop musiek val – waar elkeen dit anders ervaar en waar daar vervolgens uit daardie belewenis, iets uniek groei. Juis om hierdie rede wil hulle by elke vertoning ’n afwagting,eerder as ’n verwagting skep, sodat almal saam kom ervaar hoe die aand uitdraai. Vertonings gaan ’n baie vloeibare formaat hê en hopenlik ’n geleentheid skep vir luisteraars om weer die dieper aspekte van musiek en lirieke te waardeer.

Kaleidoskoop se Anique Jordaan, wat betrokke is by die samestelling van dié besonderse projek, verduidelik die idee het ontstaan toe ’n paar van hulle begin gesels het oor die feit dat daar nie regtig ’n platform is vir ‘dieper’ Afrikaanse musiek, sonder balrokke en vuurwerke en met meer vleis om die lirieke, nie. Die konsep van die vertonings is om iets vars, outentiek, eg, organies, akoesties en eerlik op die planke te bring. Daar sal geen agtergrondmusiek wees nie, net lewendige instrumente, stemme en opregte harte. Hulle wil vir mense wys dat daar iets anders is as wat die hoofstroom bied en wil opkomende onafhanklike kunstenaars inspireer en aanmoedig om getrou te bly aan hulself en hulle musiek.

Verder voeg Joshua na die Reën by, dat die kunstenaars wat by die projek betrokke is, almal mense is met dieselfde hart vir musiek, wat as gevolg van ’n sameloop van omstandighede paaie gekruis het, en dat die doelwit is om hierdie konsep te groei, sodat daar in die toekoms meer musikante betrokke kan wees.

Om dit nog meer besonders te maak, gaan dié groep musikante ook saam ’n splinternuwe enkelsnit opneem. Lugballon is ’n pragtige kontemporêre hartsliedjie, met die boodskap dat jou uitkyk op die lewe dikwels bepaal hoe jy situasies hanteer – ons is almal saam met ’n groep mense op reis deur die lewe, maar wat sien jy wanneer jy van bo af kyk..? As mens in ’n spesifieke situasie is, voel jy soms oorweldig. Wanneer jy dit egter van bo af ervaar, lyk jou probleme klein en kan jy die positiewe raaksien, volgens Joshua. Daar is baie negatiwiteit in ons land, maar as ons bereid is om dit uit ’n ander hoek te beskou, sal ons sien hoe mooi dit is en hoe ons soms die mooi in ander mense mis. Dié enkelsnit en ’n musiekvideo sal gedurende Maart 2019 bekendgestel word.

Oor die keuse van toekomstige konsertlokale, noem Anique hulle het venues probeer kies waar die natuur alleen as agtergrond vir die verhoog dien. Dis plekke waar mense lekker kan piekniek hou en ontspan, hulle skoene uitskop en die grond onder hulle voete kan voel.

Buiten vir hoë gehalte musiek, sal gaste ook bederf word met gourmet-geregte, lekker wyn en goeie koffie, om die geleentheid mee af te rond.

 

Musiek is Grond:

Villa Avianto, Bloemfontein – 27 April 2019

The Big Red Barn, Pretoria – 4 Mei 2019

Deure open om 17h00 en sluit weer om 22h00

Gaste is welkom om piekniekkomberse, kampstoele of kussings te bring om op te sit terwyl hulle saam kuier

Kaartjies beskikbaar by www.musieksoosgrond.co.za

Kaarjie pryse wissel tussen R200 en R250 per persoon

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*

code

Scroll To Top