We are Proudly South African
Home / All Highlights / kykNET: Nuwe Reekse, Seisoene en Flieks

kykNET: Nuwe Reekse, Seisoene en Flieks

Kersfees in Julie met hope vol nuwe programme op die kykNET kanale:

Alles Malan

Begin Dinsdag 9 Julie 20:00.

Alles Malan is ’n familiedrama wat in die Paarl buite Kaapstad afspeel. Aan die hoof van die familie staan Derik en Brenda Malan. Hulle eersgeborene, Frik, keer na agt jaar in Engeland terug om die familiebesigheid, Malan Vervoer, by sy pa oor te neem. Sy vrou, Tessa, en twee tienerkinders keer saam met hom terug, maar het elkeen ’n stryd van hul eie:

Tessa moet weer gewoond daaraan raak om ’n huisvrou te wees. Die 17-jarige Elani ontvang lewensveranderende nuus en Freek, die Malans se 14-jarige aangenome seun, worstel met ras-identiteit. Nico, die jongste van die Malan-seuns, staan op trou met Lee-Ann. Die rol van oupagrootjie Peet word deur Marius Weyers vertolk.

Genrè: Drama

Stêrre te sien: Nadia Valvekens, Ivan Zimmerman, Elsabé Daneel, Albert Maritz, Matheo Olivier, Nicole Fortuin, Greteli Fincham, Sean Marco Vorster en Marius Weyers.

Kanaal: kykNET

Lui maar op, Belinda

Begin Maandag 8 Julie 20:00.

Ian en Ander is ’n klein hoekwinkeltjie in George en behoort aan Ian Jantjies, ’n middeljarige man wat die gejaag van die groot stad vir die vrede van ’n kleiner dorp verruil het. Maar vrede is daar nie, want die drie ouer mense wat vir hom werk, maak hom grys.

Belinda Swanepoel, ’n eertydse Afrikaanse aktrise, is meer voor haar spieëltjie as voor haar kasregister en Annetjie Nel, ’n militaristiese en konserwatiewe bakster, bemoei haar meer met die winkel se sake as met die koek van die dag. Dan is daar die arme, sjarmante boereheld Frans Wessels, wat die vrede tussen Annetjie en Belinda probeer bewaar, maar selde daarin slaag.

Die reeks skop af met ’n nuwe aanstelling, die jong bleeksiel Dirkie, wat skielik hoof van sekuriteit word. Dan kom steek Maggie, Ian se vrou, ook nog haar neus in haar man se sake. Saam moet hulle die uitdagings van die ouderdom die hoof bied, maar leer ook dat die lewe vol tweede kanse is en dat ’n mens nooit te oud is om pret te hê nie.

Genrè: Komedie

Stêrre te sien: Brümilda van Rensburg, Annelisa Weiland, Eric Nobbs, Duncan Johnson, Carmen Maarman en Wian Taljaard.

Kanaal: kykNET

Kokkedoor S03

Begin Donderdag 18 Julie 20:00.

Wie sal ooit vir Tannie Poppie vergeet? Of Tiaan en Mynhardt se ongelooflike skeppings? Tannie Skuinskoek en Magda se sêgoed? Johnny en Elsa se innoverende spyskaarte?

Ná twee gewilde seisoene van Koekedoor asook Kokkedoortjie en Koekedoortjie, keer Kokkedoor wéér terug na kykNET. En, dié keer trek die reeks ’n byderwetse stadsbaadjie aan. Vir Kokkedoor 3 soek kykNET weer na die perfekte kombinasie van onthoukok en kinkelkok.

Genrè: Realiteit

Stêrre te sien: Hetta van Deventer-Terblanche, Nic van Wyk en Sam Woulidge.

Kanaal: kykNET

 

Elders: Japan

Begin Dinsdag 2 Julie 21:00.

Elders: Japan is die tweede Elders-reeks ná verlede jaar se Camino-avontuur in Spanje. Hierdie keer reis Erns Grundling en ’n klein kameraspan na Japan, waar hulle die Land van die Opkomende Son gaan verken.

Met die komende Rugbywêreldbeker, asook aanstaande jaar se Olimpiese spele wat in Japan aangebied gaan word, bied Elders: Japan vir kykers ’n blik op hierdie fassinerende land.

Erns hou van stap, en om te bly by die staptema van die eerste reeks verken hy twee pelgrimstogte in Japan, naamlik die Kumano Kodo en die Nakasendo.

Verder ervaar Erns Japan se wonderlike kultuur, kos, oorweldigende stede, pragtige natuurskoon en hou hy sy lyf onder meer samurai, ninja en sumostoeier.

Soos in die eerste seisoen bied Elders: Japan baie spontane oomblikke en verrassings. Elders: Japan is ’n opwindende lusmaker vir die Rugbywêreldbeker en sal kykers inspireer om ook hierdie ongelooflike land op hul bucket list in te sluit.

Genrè: Reis

Stêrre te sien: Erns Grundling

Kanaal: kykNET

Bolhuis S02

Begin Woensdag 31 Julie 20:00

Mike BolhuisIn hierdie seisoen is Mike op soek na internasionale voorvlugtiges, fokus hy op moorde tot bedrog en kyk hy na die nuwe dwelms wat veral skoolkinders teiken. Okkultiese bedrywighede word onder die soeklig geplaas en Mike probeer ‘n dorp red en waarsku op sy unieke manier wie jy op verlief moet raak en wie nie.

Ons sien die sagter kant van Mike wanneer hy Kimberley besoek om die flaminke vry te laat wat hy onlangs gered het en daar is selfs ‘n troue op die horison. Soos met die vorige seisoen, kan kykers ‘n Mike verwag wat nie skroom om doekies om te draai nie!

Genrè: Misdaad

Stêrre te sien: Mike Bolhuis

Kanaal: kykNET

Met ’n huppel in die Stap

Begin Woensdag 3 Julie 17:30

Met ‘n huppel in die stap begelei sestig-plussers met kundige advies oor die lewe ná aftrede. Onderwerpe soos oudhedeversameling, lekker kursusse vir seniors, seniors en hul kinders op dieselfde woonperseel, beplan jou aftreehuis en nog baie meer word bespreek.

Genrè: Leefstyl

Stêrre te sien: Riaan Cruywagen, Simon Bruinders en LIeb Bester.

Kanaal: kykNET

Jan Braai vir Erfenis S09

Begin Saterdag 6 Julie 18:00

In hierdie nuwe seisoen van Jan Braai vir Erfenis, deurkruis Jan en die span die wêreld opsoek na nuwe avonture, pragtige plekke en lekker braairesepte.

Hoogtepunte sluit in die geelstert-seisoen aan die Suidkus, subtropiese vrugte seisoen in die Laeveld en somer in Madagaskar.

Genrè: Leefstyl

Stêrre te sien: Jan Scannell

Kanaal: kykNET

Slank

Begin Sondag 7 Julie 17:30

Vier bekende Suid-Afrikaanse families word oor ‘n tydperk begelei deur geneeshere en dieetkundiges om ‘n gesonde leefstyl van lae koolhidrate en gesonde vette aan te moedig.

Die families se eetgewoontes kom onder die soeklig by geleenthede soos verjaarsdagpartytjies, uitstappies, kuiertjies deur vriende en selfs kospakkies skooltoe. Die outeur van drie kookboeke, Iné Reynierse, gee raad aan die families oor hoe om ‘n gesonde leef- en eetstyl vol te hou.

Genrè: Leefstyl

Stêrre te sien: Leandie du Rand en Iné Reynierse.

Kanaal: kykNET

Kunsvlyt S03

Begin Maandag 8 Julie 17:30

Dis tyd om te eksperimenteer, uit die boks te klim en wild oor die lyne in te kleur. Hierdie keer is daar tien nuwe kunsvlyters wat hul kreatiwiteit moet inspan om met elke probeerslag met ’n nuwe unieke skepping vorendag te kom.

Daar’s ook heelwat nuwe kinkels in die uitdagings wat gaan sorg vir groot pret, so tussendeur die kompetisie.

Genrè: Realiteit

Stêrre te sien: Michelle Holtzhausen

Kanaal: kykNET

A Glorious Human Achievement: Nelson Mandela

Begin Sondag 28 Julie 20:00

’n Mini-reeks bestaande uit ses episodes waarin Zelda la Grange vertel van dele van oudpresident Mandela se lewe waarvan min mense weet. Zelda was 19 jaar lank Madiba se persoonlike assistent en sy was tot sy dood vyf jaar gelede aan sy sy.

In dié reeks is verskeie ander mense te sien wat op ’n manier ’n verbintenis met Nelson Mandela gehad het, insluitend Mandla Mandela, Bill Clinton, Bono, Richard Branson, Morgan Freeman, aartsbiskop Bishop Desmond Tutu, George Bizos en Eddie Daniels, wat 17 jaar saam met hom op Robbeneiland deurgebring het.

Genrè: Dokumentêr

Stêrre te sien: Zelda la Grange, Mandla Mandela, Bill Clinton, Bono, Richard Branson, Morgan Freeman, Desmond Tutu, George Bizos en Eddie Daniels.

Kanaal: kykNET

Helmut Lotti: Soul Classics in Symphony

Sondag 7 Julie 10:30

Die Soul Classics in Symphony-konsert sluit ’n verskeidenheid klassieke treffers in, soos My Girl, Wonderful World, Bring It on Home, If You Don’t Know Me By Now, So You Win Again and No More Wasted Years, wat die intensiteit van die wêreldbekende Belgiese tenoor Helmut Lotti se romantiese stem ten toon stel.

Helmut Lotti het al meer as 13 miljoen albums verkoop wat platinum en goue status wêreldwyd bereik het. Hy het ook ál sy treffers in meer as 13 tale op 23 albums op geneem.

Genrè: Musiek

Stêrre te sien: Helmut Lotti

Kanaal: kykNET en kykNET NOU!

Starlight Classics Jhb: In Concert with RMB

Musiek

Sondag 14 Julie 10:30

‘n Ligte klassieke konsert onder die sterre, met optredes deur kunstenaars soos Mafikizolo, Ard Matthews, Zoë Modiga, Rocco de Villiers, Aubrey Lodewyk en Elza van den Heever.

Genrè: Musiek

Stêrre te sien: Verseie

Kanaal: kykNET en kykNET NOU!

Dominee Tienie

13 en 14 Julie

Ná sestien jaar as predikant van die Moedergemeente word Tienie Benade gekonfronteer met ’n geweldige daling in lidmaatgetalle en ’n moderne gemeenskap wat by die dag verander. Is daar nog ’n plek in hierdie wêreld vir predikante óf die kerk? Hy probeer sy bes om aan te pas en sin te maak van die veranderings, maar in die proses vervreem hy sy vrou en kinders.

Ná ’n insident met ’n sterwende boemelaar bevind Tienie homself by ’n kruispad. Sal hy sy selfvertroue en die liefde van sy gesin kan terugwen en sal hy dapper genoeg wees om sy gemeente in ’n nuwe era in te lei? Gegrond op die toneelstuk deur Dana Snyman.

Genrè: Fliek

Stêrre te sien: Onder andere, Frank Opperman, Regardt van den Berg.

Kanaal: kykNET en kykNET&kie

Die Van Coke Show

Begin Vrydag 12 Julie 21:00

Die Van Coke Show is ’n speletjies- en geselsprogram waar almal kliphard speel om niks te wen nie. Saam met bekendes en komediante gaan Francois die draak steek met al die malligheid wat in die wêreld aangaan.

Elke week sal spanne teen mekaar meeding in vinnige vraag-en-antwoordsessies en ook lekker skerts oor musiekvideo’s op daardie vreemde ding wat ons die internet noem. Van Coke word elke week bygestaan deur spankapteine soos Cindy Swanepoel, Jonathan, Beer Adriaanse en Quanita Adams.

Genrè: Speletjie en Gesels

Stêrre te sien: Francois van Coke, Cindy Swanepoel, Jonathan, Beer Adriaanse en Quanita Adams.

Kanaal: kykNET&Kie

Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel

Begin Dinsdag 23 Julie 20:30

Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel keer terug vir ’n tweede seisoen van uitsonderlike transformasies. In hierdie seisoen reis Clare en haar span van kenners regoor die land om deelnemers se lewens te verander.

Met wenke uit haar eie lewe, help Clare die deelnemers en kykers by die huis om die mooi in hulle eie lewens weer te ontdek.

Genrè: Leefstyl

Stêrre te sien: Clare Wiese-Wentzel

Kanaal: kykNET&Kie

Bolhuis S1

Begin Woensdag 31 Julie 21:00

Spesialis-ondersoeker Mike Bolhuis – die man wat wetsoortreders se broeke laat bewe – is in die misdaadsreeks Bolhuis te sien.

Mike, wat beskou word as een van Suid-Afrika se top-ondersoekers, was al betrokke by van die land se grootste moord- en bedrogsake. In dié reeks delf ons dieper in van die sake wat al op sy lessenaar beland het, soos die Delmas-moorde, waarin die vyf maande oue Wiehan Botes en sy oppasser vermoor is en waarvan die moordenaar steeds op vrye voet is.

Genrè: Misdaad

Stêrre te sien: Mike Bolhuis

Kanaal: kykNET&Kie

#

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*

code

 

Scroll To Top