We are Proudly South African
Home / Archived / Big Screen Archives / Ek Joke Net 2

Ek Joke Net 2

Na die sukses van Ek Joke Net! in 2011, het Uitvoerende Vervaardiger Peter Scott vir my en Danie genader om ‘n opvolg op die eerste film te maak. Om nog ‘n verskuilde kamera-film te maak, is iets wat ons al ‘n geruime tyd oorweeg het, en toe Peter ons nader om Ek Joke Net! 2 te maak, kon ons geensins weier nie.

Ons het ‘n wonderlike tyd gehad met die skryf en verfilming van Ek Joke Net!, veral omdat almal so na aan mekaar was en deel gevorm het van ‘n groter “familie”.

En dit is presies hoekom Ek Joke Net! 2 byna ook nie plaasgevind het nie. Na die tragiese dood van die akteur en skrywer Andrew Thompson ‘n dag voor ons ons eerste werkswinkel vir Ek Joke Net! 2 sou begin, was nie een van ons seker oor die film se vooruitsigte nie.

Maar na ‘n hele paar gesprekke het ek, Danie en Stefan Nieuwoudt, ons goeie vriend en die regisseur van die rolprent, besluit om te begin met die beplande verfilming van Ek Joke Net! 2.

Gedurende hierdie tyd het ons vir Hannes Brümmer in die skryfspan verwelkom, en het ons almal ‘n wonderlike tyd gehad om met nuwe en innoverende maniere vorendag te kom om die beste uit elke poets te kry. ‘n Paar maande later, het ons uiteindelik ons eerste ‘slagoffer’ gehad. In die maande wat daarop gevolg het, het ons van die beste poetse op film vasgevang.

Vir Ek Joke Net! 2, het ons ‘n paar akteurs in gasrolle betrek,  soos Altus Theart wat nou saam met ons hoof-poetsbakkers gewerk het. Ons het selfs vir Ivan Botha van die rolprent Pad na jou Hart oorreed om ‘n poets op sy medester Donnalee Roberts te bak, asook vir Hunter Kennedy en Wynand Myburg van die rockgroep Fokofpolisiekar, wat hul mede-rockgroep-ede die skrik op die lyf gejaag het met ‘n poets wat gewaarborg is om kykers te laat rol van die lag.

Ons het poetse op mense van regoor die land gebak: van Pretoria tot Kaapstad, van Worcester tot Hartenbos, en selfs op ‘n paar kinders by ‘n crèche in Midrand.

Ons is absoluut gaande oor die verskuilde kamera genre, en as Suid-Afrikaners lag ons altyd vir onsself, veral in vandag se tye. En dit is waarom ons besluit het om Ek Joke Net! 2 op 1 Mei, voor die nasionale verkiesing, vry te stel, om mense weer te laat lag en hulle te help om te vergeet van al die negatiewe berigte wat die koerantopskrifte so dikwels domineer. Ek Joke Net! 2 ‘herinner almal daaraan dat ons in ‘n wonderlike land woon met merkwaardigemense.

Ek Joke Net 2Danie, Stefan en ek het teen die einde van Augustus 2012 begin met die voorbereiding vir Ek Joke Net! 2. Na ons eerste vergadering het ons elkeen doelwitte gestel oor wat ons graag wou bereik met die film, met die hoofdoel om ons kykers te vermaak.

Toe ons begin skryf het, het ons reeds geweet dat daar ‘n groot taak op ons wag. Dit was glad nie maklik om met nuwe maniere en snaakser scenarios vorendag te kom waarmee ons ons ‘slagoffers’ kon uitvang nie. Ons dae het meestal uit lang ure en slapelose nagte bestaan, voor ons finaal saamgestem het op ‘n paar poetse waarmee ons tevrede was.

Stefan het toe met Hannes Brümmer, wat ook ‘n rol het in Ek Joke Net! 2 as een van die poetsbakkers, kragte saamgespan om ‘n paar snaakse situasies uit te dink wat ons in die film gebruik het. Nie lank daarna nie, het ons werkswinkels gehad waartydens ons teen baie van die poetse besluit het en ander verfyn het, wat toe op die ou end in die film gebruik is.

Ons al drie het geweet dat die kanse dat die poetse op stel sou verander baie groot was, en dit is juis daarom dat ons elke poets op so ‘n manier gestruktureer het dat dit aangepas kon word om betrekking op die situasie te hê asook op die omgewing waarin elke ‘slagoffer’ homself of haarself bevind.

Op die ou end het dinge fantasties uitgewerk en ons het als bereik waarop ons besluit het, en dit was om mense te laat lag.

#

About LouwM823

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*

code

 

Scroll To Top