Die Pro

Surf. See. Son. Vriendskap. Verlies. Vergifnis. Liefde.Die Pro

Leon de Villiers het in sy wildste drome nie kon dink dat die boek waarmee hy in 1997 die Sanlam Boekeprys vir jeug literatuur gewen het eendag in ‘n film omskep sou word nie. Dit was reeds ‘n groot verrassing toe sy boek gekies word as voorgeskrewe leeswerk in skole regoor SA. Nou, 18 jaar later is die woorde en gedagtes, karakters en hart van Die Pro gereed om lewe te kry op die silwerdoek.

Derduisende kopieë van Die Pro is in die afgelope jare gekoop en verslind deur jonk en oud wat saam op ‘n reis gaan waar ons leer dat almal hul eie, unieke wyse het waarop hulle verlies hanteer.  Met die kreatiewe insette van draaiboekskrywer Tiaan van Niekerk en kykNET het Die Pro nou ‘n nuwe baadjie gekry. Daar is vroeg reeds besluit om ‘n paar doelgerigte veranderinge te maak aan die storie soos dit in die boek vertel word, maar die hart van Die Pro is steeds daar.

Hoofkantoor Produksies (vervaardigers) steek vir die eerste keer toon in die water met ‘n vollengte film saam met Andre Velts (reg: Knysna) as regisseur.

Die ProDie Pro speel af in ‘n fiktiewe kusdorp genaamd Vlakberg waar ‘n 17-jarige Tiaan Nothnagel se kommervrye tienerlewe tot stilstand geruk word met die dood van sy beste vriend, Dirkie Lawrence. Tiaan, ‘n kranige surfer, se lewe is so onherroeplik verander dat hy die drastiese besluit neem om nooit weer op ‘n branderplank te klim nie.

Daardie besluit wat hy neem word uiteindelik een van die groot kwessies wat opgelos moet word wanneer Dirkie se beeldskone suster, Yvette, haar by die groep tieners in Vlakberg aansluit. Van daar word die film ‘n storie van hoop, grootword, hartseer, eerste liefdes en natuurlik hope aksie soos die akteurs wereldklas branderplanktoertjies uitvoer op die oop water.

Edwin van der Walt (Ballade vir ‘n Enkeling, Hollywood in my huis) vertolk die rol van Tiaan en die beeldskoon Reine Swart (Villa Rosa, Somer Son) die van Yvette. Die karakters in die film word almal uitgebeeld deur SA se top akteurs en die ensemble sluit in Vilje Maritz, Arno Greeff, Neels van Jaarsveld, Albert Maritz, Bennie Fourie, Zakeeya Patel, Helene Truter en Marcel van Heerden.

Die Pro is ‘n film vir oud en jonk wat die lewens van unieke karakters verweef in ‘n universele verhaal wat by almal aanklank vind. As jy glo in tweede kanse en die hoop dat die lewe altyd oor die dood sal seëvier is Die Pro ‘n film wat jy nie mag misloop nie.

Die Pro begin 18 September landwyd draai in teaters.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

*

code

Scroll To Top