We are Proudly South African
Home / SA Music / Bands / Saarkie: Vir Altyd

Saarkie: Vir Altyd

Suid Afrika se gunsteling meisie rockers reik nuwe enkelsnit uit.

Die Drie Girls van SaarkieNa agt suksesvolle jare in die musiekbedryf, het Saarkie beslis geen bekendstelling nodig nie. Hierdie Ghoema – bemoemde groep – Beste Rock-Album van die Jaar, Beste Album deur ’n Groep of Duo het ook ‘n South African Music Awards (SAMA) toekenning losgeslaan met Beste Rock-Album. Die trio het pas ’n nuwe enkelsnit vrygestel, wat nie net uit die staanspoor positief ontvang is nie, maar ook bewys hoekom hierdie groep “vir altyd” ’n plekkie op die Suid-Afrikaanse verhoog sal hê.

Vir Altyd bou voort op die elektries-akoestiese, bars-uit-jou-nate-uit wenresep, waarvoor dié groep bekendheid verwerf het en kan beskryf word as ’n mengsel van moderne Pop en Rock. Die liedjie is geskryf deur Adèle Fouché en Mjön van Blommestein en verteenwoordig die goeie plek waarin die Saarkies hulleself tans bevind. “Almal het iemand wat hulle vir altyd in hulle lewe wil hê, selfs al droom jy nog net van ’n ontmoeting met so ’n persoon. Die lied vertel van iemand se begeerte om sy of haar drome uit te leef saam met hierdie persoon, vir altyd…,” vertel hulle entoesiasties. “Ons dink mense sal daarvan hou omdat die universele boodskap met jonk en oud praat. Dis ook een van daardie liedjies waarop almal kan dans en saamsing. ”Daar word ook ’n musiekvideo vir hierdie treffer beplan en die beeldmateriaal is glo regoor die land geskiet.

Die snit is die eerste vrystelling vanaf hulle vierdie album, Queen van die Toorbos, wat later vanjaar uitgereik word. Volgens hulle, kan luisteraars uitsien na nuwe klanke, soos klavier- en tjellomusiek wat by seker ballades ingewerk is en lekker kitaarsolo’s by die rockliedjies. Elf oorspronklike snitte en drie verwerkings van bekende gunstelinge, soos Stille Waters, deur Laurika Rauch, I’m On Fire van Bruce Springsteen en Beds are Burning deur Midnight Oil, vorm deel van die speellys en die titelsnit word uitgesonder as hulle gunsteling. “Die lirieke vertel ’n opwindende fiksionele verhaal, met ’n verrassende storielyn. Instrumenteel is dit ’n opwindende liedje om op te voer en ons hou veral van die mondfluitjie. Die beste van alles is dat Queen van die Toorbos ’n energieke reaksie uit die gehoor lok en ons mal is oor daardie gevoel,” verduidelik hulle. “Dis ’n Pop-rockalbum, met ’n Saarkie-benadering. Dit bevat woorde vir die hart, energie vir die siel… en solo’s vir die vale!”

Over the Sea, ook vanaf die nuwe CD, is geïnspireer deur staaltjies, wat hulle vriende wat op skepe werk, met hulle gedeel het. “Dit gaan oor hoe ’n mens na ’n ver plek toe seil om jou drome waar te maak. Die avontuur wat die see inhou, en die misterie wat aan die oorkantste wal lê. Die liedjie het ’n reggae-gevoel, amper soos UB40, met mooi harmonieë, ’n lekker ritme en ’n pragtige melodie. Dit voel amper of jy langs die strand sit met ’n skemerkeltjie wanneer jy daarna luister,” verklap hulle. Die musiekvideo is tydens die STRAB-musiekfees in Mosambiek verfilm en laat verlede jaar op YouTube gelaai as lusmaker vir die nuwe album.

Sedert dié rockers in 2009 hulle debuutalbum, Luister, vrygestel het, het hulle nog nooit weer teruggekyk nie en het hierdie handelsnaam behoorlik kom nesskop in musiekharte. Sneeu in Afrika, die eerste musiekvideo wat uitgereik is, was ’n kitssukses en is baie op MK gespeel. Identiteit is vanaf 2011 op die rak en het voortgebou op hulle groeiende sukses. Die album is opgeneem en verwerk deur Sean Manley en Zanda Traut, by Manley Studios in Pretoria en bevat ’n snit uit die pen van Rock-legende, Jan Blohm, met die naam Nader Aan My. ’n Musiekvideo van die titelsnit is kort na die vrystelling deur Blixem Produksies verfilm en word steeds op DStv uitgesaai. Reisiger, hulle derde album, is in Maart 2015 uitgereik en het verskeie radiotreffers opgelewer, waaronder Dullstroom, Somerjare en Kamers van my Hart.

Saarkie beplan om binnekort die land plat te toer om hulle nuwe CD te bemark en werk ook aan verskeie musiekvideos. Die dames het groot bewondering vir elke musikant wat bereid is om hul hart met ’n gehoor te deel en lys Foo Fighters, Zolani Mahola, Joshua na die Reën, Karen Zoid, Muse en Koos du Plessis as hulle grootste inspirasie. “Ons sal ook nog saam met Albert Frost of Dan Patlansky wil musiek maak want hierdie manne weet van rock!”, verduidelik hulle. Hulle droom daarvan om internasionaal naam te maak en gehore na hulle asems te laat snak met hulle musiek. As die unieke verhoogpersoonlikheid, sinergie en verslawende ritmens van die verlede enigsins ’n aanduiding is van hulle nuutste werk, kan aanhangers maar nader staan om te kom kop skud, want daar is min kunstenaars wat Afrikaans kan laat rock soos hierdie evas!

#

Comments are closed.

Scroll To Top