We are Proudly South African
Home / Interviews / Ons Praat met Rolanda Marais

Ons Praat met Rolanda Marais

Van Sepie Feeks, tot Silwerdoek Liefling.

deur Louw Mulder

Rolanda MaraisIn ‘n Netwerk24-artikel wat op 16 Junie 2016 deur Fanie Cronje geskryf is, is daar na Stefanie Malherbe as die ‘Feeks van reeks’ verwys. Ek onthou hierdie karakter nog van die tyd toe Binnelanders ‘n dramareeks op M-Net was.  Stefanie, die ontvangsdame van Dokter Zieg Combrink se praktyk, was die minnares van haar baas, en so het juffrou Malherbe baie onpopulêr onder die Binnelanders geword. Stefanie was vir amper sewe jaar deur Rolanda Marais gespeel, van die begin af in 2005 tot laat in 2011.

Tydens my onderhoud met Rolanda het ek agtergekom dat haar fokus en talente op haar menswees as ma en as kunstenaar geplaas word en dat hierdie veelsydige aktrise maar min woorde vir joernaliste het.

Rolanda Marais as Stefanie Malherbe in BinnelandersVir Rolanda, bied ‘n sepie in vandag se tye aan akteurs ‘n stabiele inkomste wat volgens haar maar skaars is in die industrie, wat meestal baie onseker en sporadies kan wees. Maar haar rol in hierdie sepie, Binnelanders, het vir haar ‘n baie dieper betekenis as die vaste salaris. “Ek het ‘n household naam geraak. Om by Binnelanders destyds aan te sluit, was ‘n loopbaan besluit wat ek gemaak het. Ek het in die Kaap gebly en besef dat dit ‘n goeie stap sal wees om beter bekend te word onder die Afrikaanssprekende gehore,” het sy met my gedeel.

“My tyd by Binnelanders het my geleer om op te square, en ‘n kamerabewustheid te hê,” het Rolanda vertel. “Ek kan nie onthou wat my gunsteling toneel was nie, maar ek het dit regtig geniet om met die mense daar te werk, voor en agter die kameras,” vertel sy gretig, maar met min woorde. “Ek het van my beste, lewenslange vriende daar ontmoet. As mens so intiem saam met ander mense werk, leer ken jy die mooiste en slegste van ‘n persoon. Jy raak soos family. Dis baie spesiaal.”

Rolanda Marais as Stefanie Malherbe in BinnelandersAlhoewel sy nie baie gesê het nie, was dit tog moontlik vir my om baie duidelik tussen die lyne te lees hoeveel passie Rolanda Marais het vir wat sy doen. Toe ek haar vra hoekom sy by Binnelanders weg is, het hierdie liefde wat sy vir toneelspel het, weer duidelik geraak: “Ek geniet dit om verskeie karakters te vertolk. Dit is uitdagend en stimulerend om met elke projek in ‘n nuwe karakter se kop te klim. By Binnelanders, om dieselfde rol jaar in en uit te speel was nie ideaal nie.”

Na haar ervaring by Binnelanders, het ons vir Rolanda in vele ander televisiereekse gesien, onder andere Vlug na Egipte, High Flyers, en ook die kykNET-reeks, Waterfront, waar sy die ma van Edwin van der Walt se karakter vertolk het. Op die silwerdoek, het sy haar talente uitgeleef in speelfilms soos Wolwedans in die Skemer, Ballade vir ‘n Enkeling, Freestate en Bloodline. Vele ander bydrae tot teater en die televisie word nog op Rolanda se resumé gesien. Maar vir nou, kan ons uitsien na Rolanda Marais se rol in ‘n opkomende film, met die titel, Die Seemeeu. 

 

 Aan Binnelanders vir julle 3000ste Episode:

“Keep on Keepin’ On.  Julle Maak Mooi.” – Rolanda Marais.

 

Die Taalversorging van hierdie onderhoud is behartig deur Christa Steyn
#

Comments are closed.

Scroll To Top