We are Proudly South African
Home / All Highlights / Rocco de Villiers: kortbroek, langkouse

Rocco de Villiers: kortbroek, langkouse

Kamera’s, Kortbroek en Kouse, Rocco!

Die eerste musiekvideo vanaf Rocco de Villiers se nuutste album, kortbroek, langkouse, is pas vrygestel en het reeds soos ’n veldbrand onder aanhangers versprei.

Die produksie is behartig deur Gerhard van Rooyen en sy produksiespan en is geskiet by Safari Tuinsentrum in Lynnwoodweg, Pretoria. Gerhard vertel dat die konsep gebaseer is daarop dat ons onsself in die daaglikse lewe van ’n kous bevind. Hy dink daar is mense wat hulself met die kous se lewe kan vereenselwig, waar jy vasgevang is in die gewone roetine. Jou lewe het stagneer en jy vind jouself in ’n gemaksone. Kous het ’n droom. Hy sien daagliks die prentjie van Rocco en sy musiek wat êrens ver weg is op ’n eiland en hy voel hy is vir meer bedoel in die lewe. Kous maak dan die besluit om weg te breek van die ordinêre om sy droom te vervul. Hy gaan op ’n avontuur om Kouseiland te gaan soek.

Die album en liedjie heet kortbroek, langkouse en die storie van kouseiland het dus soos ’n handskoen gepas. Die verhaal van die kous is in Waverley verfilm en daar is gebruik gemaak van stop motion-tegnologie om die kous lewe te gee, saam met die gewone video. Die kouse is met draadwerk gestop sodat hulle posisies beheer kon word. Die tuinsentrum het al die nodige elemente bevat om ’n sprokiesland te skep.

Die dieper betekenis van kortbroek, langkouse, is om mense te inspireer om net soos Rocco ook hulle drome te volg en te bereik. Dit is duidelik dat dié splinternuwe album deur dié Suid-Afrikaanse klavierlegende jou op ’n opwindende lewensreis gaan neem, musiekliefhebbers gaan laat vrolik voel, maar ook soms diep sal laat dink. Die album is tans aanlyn en by winkels te koop.

kortbroek,langkouse, is De Villiers se veertiende instrumentele album en bou voort op die musikant se unieke klavierstyl, eiesoortige komposisies en verwerkings waarvoor hy bekendheid verwerf het. Dié popalbum spog nie net vir die eerste keer met ’n Afikaanse titel nie, maar beloof om luisteraars na die dansvloer te lok.

#

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

 

Scroll To Top