We are Proudly South African
Home / All Highlights / Nommer 37

Nommer 37

‘n Eg Kaapse Riller, en Niks Minder Nie!

deur Louw Mulder

Irshaad Ally by die Voorskou van Nommer 37In een van haar treffers in die 80’s, sing Carike Keuzenkamp die woorde: “Dis ‘n land van kleure en klank, dis ‘n land van oorvloed en dank, dis ‘n land waar almal na strewe… Hierdie land bied almal sy deel…”

Dit is hierdie milieu van Trots Suid Afrikaans, die gevoel van patriotisme vir hierdie land van ons, as ek dink aan my aanvanklike terugflitse van die nuwe speelfilm wat hierdie week op die grootskerm oopmaak, Nommer 37. In hierdie land van ons, sit ons met soveel kulture en mense, wat met ‘n kaleidoskoop van kleure en klanke, ons land ‘n land maak waarop almal van ons aan die einde van die dag op trots kan wees. Een van hierdie sterk gedefinieerde eienskappe, is diè van die Kleurlinggemeenskappe in die Kaap.

Uit die pen van Nosipho Dumisa, kom die Silwerskerm-bekroonde kortfilm, wat nou sy regmatige plek as ‘n vollengte rolprent verdien het. Nommer 37 speel af op die Kaapse Vlaktes, en daar word glad nie doekies omgedraai as dit kom by die uitbeelding van die verskillende kleure en klanke van hierdie Kaapse kulture nie. Die brutale geweld in die misdaad, die kru, kras, maar tog komiese taal en aksent van die Kapenaars, asook die diverse en unieke nuutskeppinge van diè nasie word oorgedra, net soos wat dit werklik is.

Danny Ross by die Voorskou van Nommer 37Nommer 37, ‘n misdaadriller, hou jou op die punt van jou stoel, met sekere van die tonele wat jou forseer om dit deur die gleufies van jou vingers te kyk, omdat jy nie wil sien wat gaan gebeur nie… maar tog dit nie wil mis nie. Die tema handel oor ‘n driehoek van verraad, weerwraak en skuldeising, in die mees geweldadige maniere. Selfs die onaanvaarbare verskynsel van korrupsie in ons land se wetstoepassing, kry sy deel in hierdie storie.

‘n Mens raak geheg aan die hoofkarakters, Randal en Pam, maar word terselfdertyd tyd nogal frustreerd met die slegte, dom en gevaarlike besluite wat hulle maak en deurvoer. Dan, moet jy daar sit en naels kou, soos wat jy hulpeloos moet toekyk hoe alles net verder en verder vir hierdie twee verkeerd loop. Irshaad Ally en Monique Rockman vertolk onderskeidelik hierdie twee hoofrolle, en ek dink die karakters self, asook Ally en Rockman se vonk tussen mekaar, verdien volle welslae. Ek moet veral uitlig hoe trots Suid-Afrika kan wees op die talent van Rockman om op so ‘n manier haar debuut op die silwerdoek te maak.

Sandi Schultz by die Voorskou van Nommer 37Persoonlik, het ek die meeste van Danny Ross se spel gehou, wat die komkommer-koel skuldeiser, Emmie, gespeel het. Vir my het Ross dit reg gekry om met die gehoor wipplank te speel, en sonder om te veel weg te gee, staan ‘n mens na die einde se kant verdeeld, as jy soortvan gedwing word om kant te kies…

Ander name in hierdie baie bekwame, en volgens my uitters gefokusde rolverdeling, sluit in Ephraim Gordon as Warren, Sandi Schultz as Speurder Gail February, Deon Lotz as die korrupte bevelvoerder, Gavin France, en Elton Landrew as Pastoor White. Die groot skurk in die storie is Lawyer en ek dink dat die vervaardigers nie ‘n beter akteur vir hierdie rol kon kry, as David Manuel nie.

Alhoewel ek baie lof het vir die spelers in die flim, moet ek erken dat Luke Jansen in die rol van Spook my nie heeltemal oortuig het nie, maar ek staan tereg dat dit dalk meer die grimering kon wees wat die aandag af gelei het, as sy spel. Nietemin, Jansen se rol pas in by die oorhoofse tema, en sy spel dra daartoe by dat ‘n mens glad nie van Spook hou nie.

Skrywer en Regisseur van Nommer 27, Nosipho Dumisa by die Voorskou van Nommer 37Ek dink die produksie self is nommerpas vir Nommer 37. Dumisa, wat ook die regie behartig het, is deur ‘n effektiewe kreatiewe span ondersteun, wat saam met haar die kern van die verhaal op die lappe kon bring. Daar was spannende verkykerskote, wat deur boeiende stilte vererger is, asook musiek in tonele wat voel asof dit die spoed van die storie wil aanjaag. Van die eerste toneel, waar die toon van die flim deur ‘n gemartelde, wrede verminkte liggaam aan die gehoor bekend gestel word, tot in die laaste toneel, met dieselfde gevoel, dra al die elemente van film-maak by tot hierdie sukses.

Dis veral die sterk taalgebruik van die karakters, wat eie aan hul kultuur uitgebeeld word, wat ‘n mens dadelik terug bring aarde toe, en jou weereens laat besef dat hierdie geweld ‘n realiteit daar buite is. Maar, selfs in die filmteater waar ek gesit het tydens ons voorskou, was hierdie eg-Kaapse taal baie komies, en genoeg om die spanning vir ‘n wyle te verlig, om die perfekte balans te handhaaf. Ek hoop van harte dat fliekliefhebbers in die Kaap, wat gedurig met hierdie taal te doen het, ook dieselfde as ek, ‘n Johannesburger wat nie die taal gewoond is nie, gaan ervaar.

Gaan kyk Nommer 37, maar gaan kyk die film met ‘n oopkop. Dit mag sensitiewe kykers skok, maar kyk dieper. Ons bly in ‘n land van kleure en klank, oorvloed en dank, en tog, met al die geweld, gru-misdaad, en korrukspie, is dit maar ons eie Suid-Afrika waarna almal strewe, en almal sy deel bied.

Nommer 37 Begin 1 Junie in teaters draai, met ‘n Ouderdomsbeperking van 16. English Subtitles are available.

 

Hierdie resensie is taalkundig en feitlik versorg deur Christa Steyn van www.flieksioneel.co.za. 

Fotos deur Louw Mulder.

#

Comments are closed.

Scroll To Top