We are Proudly South African
Home / SA Music / Bands / MWAH: Beter as sterk

MWAH: Beter as sterk

MWAH deel ‘n stukkie van hulle hart met nuwe vrystelling.

Die duo, MWAH (Fran-zel de Wet en Loriska Bubb), wat verlede jaar hulle kortspeler, Nuwe Begin, vrygestel het, is opgewonde oor hulle volgende tree.  Ná die sukses van Nuwe Begin en Magneties is dit ’n voorreg om die nuutste enkelsnit, Beter as sterk met aanhangers landswyd te kan deel. Hierdie is die eerste liedjie waar die twee dames self deel was van die skryfproses.  “Dit is so lekker om ’n stukkie van onsself te deel”, sê Loriska.

Stephantasties, ook bekend as Stephan van Huyssteen wat deel was van die Afri-Visie Liedjieskryfkompetisie se Top 10, het saam met die dames geskryf en ook die vervaardiging van die liedjie behartig. Dit is altyd opwindend om te sien hoe iemand se ervarings of stories in lirieke verander en ek sien saam met MWAH uit na die volgende liedjies!” sê Stephan.

Die eerste vers van die liedjie is deur Loriska geskryf en sy interpreteer dit soos volg: “Jy meet jouself aan ander en wêreldse standaarde en dink jy is nie goed genoeg om die beste te wees nie.  Ons is geneig om ons eie grootste vyand te wees- deur die perke wat ons vir onsself in ons koppe stel.”

Fran-zel, wat die tweede vers geskryf het, sê: “Die mensdom het soveel mooi, maar ons kan so lelik wees teenoor mekaar. Ons almal ken die gevoel as ander mense stories oor jou vertel of slegpraat. Ons meet onsself so gereeld aan wat mense dink en begin dan in onsself twyfel. Die fantastiese ding is, jy het alreeds alles in jou wat jy ooit sal nodig hê om die beste jy te wees. Jy is tot meer instaat as wat jy dalk mag dink.”

MWAH hoop dat die liedjie mense sal sal inspireer en krag gee. In die woorde van Loriska en Fran-zel:  “Jy is tot soveel meer instaat as wat jy dink.  Wees net jouself. Dit is genoeg.  Bly net glo in jouself, want jy is beter as sterk”.

#

Comments are closed.

Scroll To Top