We are Proudly South African
Home / Reviews / Music Reviews / Len Muller: Oog van die Storm

Len Muller: Oog van die Storm

Die Oog van die Storm sien Muller se Tweede Album.

Deur Jaco Lotriet

Miskien lê die vreugde van die lewe daarin om al die verskillende seisoene van die lewe te aanvaar. Om die geleenthede wat elke seisoen bied, te vier. Dit is juis hierdie tema wat deurgans op Len Muller se nuwe album na vore gebring word. Met hierdie blymoedige mantra het die onverskrokke oud-inwoner van Richardsbaai sy tweede solo projek benader… en suksesvol daarin geslaag!

Oog Van Die Storm, onlangs vrygestel voor ‘n intieme gehoor wat die snerppende koue in die Gauteng lug trotseer het, is by Industrial Coffee Works koffiekroeg in Centurion met ‘n warm atmosfeer ontvang.

Die vriendelike Ghoema- en Tempo benoemde sangsensasie het weggeval met die goed-voel enkelsnit, Ek Glo, gesteun deur ‘n klein driestuk – orkes van gesoute sessie musikante, onder wie Jason Moser op tromme, Dean Henning op elektriese kitaar en Raldo Mattheus op baskitaar, tjello en bykomende kitaar. Met die inleiding en vers van die openingsitem, het Len op sy akkoestiese kitaar my verbeelding aangegryp, deur die weg te baan vir die koor gedeelte, wat bes beskryf kan word as energiek en besonder melodieeus.

‘n Ondertoon van geloof is duidelik te speur in die woorde van hierdie album. In passing met die voorgenoemde tema, verduidelik Muller dat sy roeping juis uitgeloop het uit die geloofspronge wat hom deur sy moeilike tye gedra het. Geloof in jou eie vermoëns en in God wat die pad aanwys dien as uitnodiging, wat die luisteraar voorwaar sal inspireer tot nuwe hoogtes.

Die album bevat ‘n speellys van 12 kontemporêre en altrnatiewe luisterliedjies, wat noukeurig verwerk is deur twee vervaardigers, Gideon Botes en Francois de Klerk. Dan Patlansky het ‘n verrassende blues stemming aan die snit Amsterdam verleen, ‘n genre wat Muller verklap, hy nog altyd wou opneem. Alhoewel ek nie Afrikaans met diè tipe musiekstyl vereenselwig nie, moet ek bieg, Muller se weergawe laat dit besonder goed werk.

Die titelsnit, Oog van die Storm, is diep pynsend, selfs pleitend. ‘n Klavier gedrewe angslied, tog met ‘n silwer randjie, ontbloot ‘n warrelwind van emosies wat met ‘n crescendo opbou, en saggies ontplof, totdat ‘n tromrol hierna die pas aangee, tot die einde. Mynhardt Smit het saam met Muller aan Oog van die Storm geskryf. Saam, illustreer hulle ‘n skynende baken van hoop wat hartsnare goed roer en ongetwyfeld my gunsteling op die album is!

Ander medewerkers wat die produksie verder vervolmaak het, sluit in Roan van As op Vrede, ‘n optimistiese lied met ‘n parmantige prof klop op die tromme, wat ook Muller se gemaklike falsetto uitlig. Faraway George, wat saam geskryf het aan Sente vir Sente, sinspeel op Muller se lang pad na roem, met verwysing na sy eie uitdagings as kunstenaar. Die gebruik van ‘n banjo verleen ‘n lekker country musiek luim en sleep die luisteraar in ’n wêreld waar gevoelens van twyfel in jou drome, die oorhoofse tema is. Bekende sanger, Laurika Rauch, en skrywer Chris Torr, het hul stempel van goedkeuring afgedruk op ‘n ou Rauch gunsteling, Die Gang. Muller se verwerking is aangrypend mooi afgerond maar behou nogsteeds sekere elemente wat die oorspronklike weergawe so geliefd gemaak het.

Oog van die Storm getuig van Len Muller se ongelooflike senstitiewe liedjieskryf vermoëns in sy soeke na musikale volmaaktheid. Hierdie merkwaardige kenmerke het tot dusver gesorg vir die sukses wat hy reeds bereik het deur diep spore in die Afrikaanse musiek bedryf te trap. Nou weer, met sy tweede slag, voer hy dit selfs verder deur sy siel bloot te stel in sy musiek wat homself net stewiger sal vestig in die harte van musiekliefhebbers.

Oog van die Storm is nou landswyd beskikbaar.

#

Comments are closed.

Scroll To Top