We are Proudly South African
Home / Big Screen / Krotoa

Krotoa

Plaaslike Flim spog met 8 toekennings by die New-York Film Fees

Plaaslike rolprent, KROTOA, wat eers in Augustus in Suid-Afrika vrygestel word, het uit die staanspoor die harte van kykers en kritici, regoor die wêreld, verower. Die film het die afgelope naweek sy agtste toekenning ingepalm, toe dit aangewys is as Beste Film by die Harlem Internasionale Rolprentfees in New York.

KROTOA is net so indrukwekkend en onvergeetlik soos die historiese heldin waarop hierdie merkwaardige fliek gebaseer is. Dit is ’n aangrypende verhaal oor ’n dapper vrou, wat alles in die stryd gewerp het, om geboorte te gee aan die wonderlike nasie waarvan ons almal vandag deel is. Dit het nie net ’n kragtige boodskap, waarmee almal kan vereenselwig nie, maar beloof ook om die kyker op ’n onvergeetlike avontuur te neem na vervloë tye.

Die rolprent spog ook reeds met met ses amptelike benoemings deur internasionale rolprentfeeste, soos die Internasionale Rolprentfees vir Omgewing, Gesondheid en Kultuur, Wêreld-filmtoekennings, Artemis Vroue-in-aksie-filmfees en die Nashville-rolprentfees.

Hierdie geskiedkundige drama vertel die storie van ’n vurige elfjarige Khoi-prinses, wat van haar stam weggeskeur word om vir Jan van Riebeeck (die eerste goewerneur van die Kaapse Kolonie en haar oom se handelsvennoot) te gaan werk. Sy word na die eerste Fort, wat in 1652 deur die Oos-Indiese Kompanjie gevestig is, geneem waar sy grootword as ’n visionêre jong dameSy word na die eerste Fort geneem, wat in 1652 deur die Oos-Indiese Kompanjie gevestig is. Hier word sy groot as ’n visionêre jong dame, wat die Nederlandse taal en kultuur so goed verstaan, dat sy ’n invloedryke tolk word vir van Riebeeck – die eerste goewerneur van die Kaapkolonie. Krotoa word egter op die ou einde deur haar eie Khoi-mense verwerp en deur die Hollanders vernietig wanneer sy probeer om ’n middeweg tussen die twee kulture te vind.

KROTOA (Crystal Donna Roberts), wat leer om die Nederlandse taal en kultuur goed te verstaan, word ’n invloedryke tolk tussen Jan van Riebeeck (Armand Aucamp) en haar eie mense. Vasgevang tussen twee kulture, probeer sy om dié twee wêrelde met mekaar te versoen, wat veroorsaak dat die Khoi-stam haar verwerp en die Nederlanders haar vernietig.

Die fliek, uit die pen van Kaye Ann Williams en Margaret Goldsmid, is geskep deur ’n dinamiese span vroue, met bekroonde filmvervaardiger, Roberta Durrant, as regisseur en vervaardiger. Roberta is die skepper van verskeie suksesvolle Suid-Afrikaanse televisiereekse, waaronder Ring of LiesHome Affairs (wat benoem is vir twee Internasionale Emmy-toekennings en as Beste Drama by die Banff-rolprentfees),  en Stokvel. Haar kinderfliek, Felix, het sewentien internasionale filmtoekennings gewen, terwyl ander produksies soos Inside OutSkilpoppe en Ingoma ook baie goed ontvang is. Laasgenoemde is in 2016 met ses SAFTA-toekennings bekroon. Sy is ook die skepper van die nuwe kykNET-drama, Sara se Geheim.

Jacques Bessenger, Deon Lotz, Marcel van Heerden, Roeline Daneel, Brendon Daniels en Ernest St Clair is ook in hierdie bekroonde verhaal te sien.

KROTOA is vervaardig deur die SAFTA-bekroonde rolprentvervaardigingsmaatskappy, Penguin Films, in samewerking met kykNET, Die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NFVF) en die Departement van Handel en Nywerheid (DTI). Die rolprent word op 4 Augustus 2017 (Vrouemaand), deur Ster-Kinekor Entertainment, uitgereik en is die perfekte manier om die blywende impak te vier wat Suid-Afrikaanse vroue op ons wonderlike nasie gehad het.

Ander toekennings sluit in:

  • ’n Toekenning van Uitnemendheid by Die Internasionale Rolprentfees vir Vroue, Sosiale Kwessies en Zero-diskriminasie;
  • ’n Beste Rolprent van die Fees-toekenning by die Depth Of Field International Film Festival;
  • ’n Platinum-toekenning by die Internasionale Rolprenttoekennings;
  • ’n Diamant-toekenning by die Wêreldfees vir Filmmakers;
  • ’n Beste Rolprent van die Fees-toekenning by The IndieFEST-filmtoekennings;
  • ’n Toekenning van Uitnemendheid met spesiale vermelding vir Vroulike filmmakers by die Accolade Global Film-kompetisie; en
  • ’n Wêreld-platinumtoekenning by die World Woman-toekennings.

 

#

Comments are closed.

Scroll To Top