We are Proudly South African
Home / Archived / Kokkedoortjie

Kokkedoortjie

En, Die Wenner van Kokkedoortjie is….

Edwin Theron is die wenner van kykNET se gewilde Kokkedoortjie-werklikheidsreeks!

Dié dertienjarige kinderkok van Worcester het in die finale episode van Kokkedoortjie, wat Woensdagaand uitgesaai is, teen Christi Myburgh (14) van Bloemfontein meegeding.

Edwin en Christi moes ’n driegang-spyskaart vir die beoordelaars, Mari-Louis Guy en Nic van Wyk, voorberei het. Die kersie op die koek vir Edwin was sy weergawes van ’n Avokado Ritz as voorgereg, hoender cordon bleu as hoofgereg en sy spyskaart is afgerond met sjokoladopoeding met kersies. Dié drie treffergeregte het om die Kokkedoortjie-wennerstitel besorg.

“Ek kan steeds nie glo ek het gewen nie, want Christi is ongelooflik goed in die kombuis met baie koskennis,” sê Edwin.

Vir Edwin is dit belangrik om die lewe voluit te lewe en kanse te vat. Hy het egter nooit gedink hy gaan wen nie en het aanvanklik net vir die lekkerte ingeskryf.

Kokkedoortjie het my lewe verander en ek is nou trots om vir die wêreld te wys dat ek daarvan hou om te kook!”

Edwin se hoofprys is ’n Meditereense bootreis, geborg deur Pentravel en hy vertrek Saterdag (1 Julie) saam met sy ma, Marietjie, en suster, Martli op hierdie droomvakansie.

Christi stap ook met ’n ongelooflike prys van Pentravel weg en hy en sy gesin vertrek binnekort op ’n vakansie na Mauritius.

Kitsfeite oor Edwin

  • Insluitend die finale episode, het Edwin vier van Kokkedoortjie se twaalf uitdagings gewen.
  • Hy is op 7 Februarie 2004 in Worcester gebore.
  • Edwin is Worcester-Noord Primêre Skool en is in graad 7.
  • Sy ma, Marietjie, is ’n bekende pediater in Worcester en sy suster Martli is 15-jaar oud.
  • Hy doen talle buitemuurse aktiwiteite en neem onder meer deel aan stoei, hokkie en skaak, terwyl hy ook in die skoolkoor sing.

 

NÓG GOEIE NUUS!

kykNET is opgewonde om aan te kondig dat daar ’n opvolgreeks vir Kokkedoortjie gaan wees, maar dié keer met ’n baktema. kykNET soek nou deelnemers, tussen 9 en 13 jaar oud vir Koekedoortjie, terwyl Mari-Louis Guy en Nic van Wyk weer die septer, of eerder die klitser, sal swaai in die Koekedoortjie-kombuis.

Voornemende deelnemers kan ’n e-pos stuur na koekedoortjie@homebrewfilms.tv, 021-422-3452 bel vir meer inligting of www.kyknet.tv besoek. Inskrywings sluit 25 Augustus 2017.

Aanhangers van Kokkedoortjie kan ook uitsien na ’n kookboek oor die reeks, wat deur Errieda du Toit saamgestel is. Dit sal van 19 Julie te koop wees en bevat talle resepte uit die reeks en die beoordelaars deel ook resepte waarvan hul eie kinders baie hou.

Kokkedoortjie is by Atlantic Studios in Milnerton, waar reekse soos Suidooster en Kwêla ook vervaardig word, geskiet.

#

Comments are closed.

Scroll To Top