We are Proudly South African
Home / SA Music / Male Artists / Jak de Priester: 15 Jaar

Jak de Priester: 15 Jaar

De Priester vier 15 jaar in vermaakbedryf met vrystelling van splinternuwe album

Jak de PriesterNa vyftien suksesvolle jare in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf, het Jak de Priester beslis geen bekendstelling nodig nie. Hierdie bekroonde Pretorianer, met sy sielvolle stem, betekenisvolle lirieke, ritmiese musiek en vermaaklike verhoogpersoonlikheid, het oor die jare diep in sy ondersteuners se harte kom nesskop. Vandag is dié Sally Williams Nougat-sanger ’n gevestigde naam, met nege studio-albums, ’n kinderalbum- en DVD, ’n boek, ’n digbundel en verskeie verhoogproduksies op sy kerfstok. Hy het ook in 2012 televisieaanbieder by sy indrukwekkende CV gevoeg.

Ter viering van sy vol en suksesvolle loopbaan, het Jak onlangs ’n splinternuwe album, 15 Jaar, uitgereik, vol moet-hoor-snitte, wat luisteraars van begin tot einde sal bekoor. “Ek wou graag my vyftien jaar in die musiekwêreld met ’n album vier. My temalied is ‘15 Jaar Met Klavier En Kitaar’, so hierdie is ’n produk van hoe my vaardighede as liedjieskrywer oor die jare gevorder het,” vertel die sanger. “Die temas op die CD wissel tussen ons land en sy mense, kinders, vriendskap, ervaringe van gaste wat saam op ‘Reis na Gister’ was, liefde en nostalgie.”

Album nommer nege bestaan uit sewentien oorspronklike snitte uit sy eie pen, wat sorgvuldig uitgesoek is om die sukses van sy loopbaan in ’n neutedop vas te vang. Buiten vir komiese nommertjies en pragtige liefdesliedjies, is daar ook opwindende samewerkings met kunstenaar soos Steve Hofmeyr, Dr Victor, Bianca Pelser, Koos Kombuis en Charl du Plessis.

Die nuutste enkelsnit, Reënboog oor Suid-Afrika, is pas vrygestel en beloof om aan selfs die kieskeurigste vereistes te voldoen. Hierdie duet saam met die gewilde partytjiemusiekmaker, Dr. Victor, is ’n goedvoeltreffer met ’n baie inspirerende boodskap. ’n Musiekvideo van die treffer word beplan vir later vanjaar.

Musiek is egter nie die blondekop se enigste talent nie, want hy blink ook uit as digter en skrywer. Hy stel in 2005 sy eerste digbundel, Heuning in die Mond vry, gevolg deur ’n boek, Brood, in 2010. Een van sy gedigte, Onsekerheid, is ook in 2009 ingesluit in die nuwe Afrikaanse Groot Verseboek. Die sanger het ook tussen 2011 en 2015 die rubriek, Pa se Stem geskryf, vir Baba & Kleuter.

Jak het nog baie planne vir die toekoms en hou daarvan om sy talent met ander kunstenaars s’n te kombineer. “My lewe en die wêreld waarin ons leef, inspireer my. Ek hou van goeie sangers, met ’n kunstige aanslag, soos Amy Winehouse. Sterre soos Johannes Kerkorrel, Amanda Strydom, Koos Kombuis, ensovoorts, het almal ’n invloed gehad op my eie musiekstyl. Ek geniet ook samewerkingsen het al saam met Laurika Rauch, Steve Hofmeyr, Koos Kombuis en Nataniël gewerk, en sal nog graag kragte wou saamspan met Amanda Strydom, Coenie de Villiers, Karen Zoid en nog baie ander,” gesels hy.

Die bedryf het vir hom baie geleer oor geduld, mislukking, stres, sukses en geloof, maar hy glo nog altyd dat musiek enigiets kan gesondmaak en hoop dat sy nuutste werk, luisteraars se lewens net so sal verhelder, soos die geel agtergrond van sy nuwe CD se buiteblad.

15 Jaar is ’n moet-hê-album vir elke Jak de Priester aanhanger. Dit is ’n kombinasie van gevoelvolle hartsmusiek en opgewekte partytjiedeuntjies, waarsonder geen speellys volledig sal wees nie. Sy nuutste album en enkelsnit is nie net ’n duidelike bewys dat dié sangsensasie sy gehoor se belange op die hart dra nie, maar ook ’n juweel vol treffers wat nog vir baie jare oor die radio gehoor sal word…

#

Comments are closed.

Scroll To Top