We are Proudly South African
Home / Reviews / Big Screen Reviews: Afrikaans / Hoener met die Rooi Skoene

Hoener met die Rooi Skoene

‘n Aangename Verrassing deur Koos Roets
deur Louw Mulder

Ná die vorige rolprent van regisseur Koos Roets, ‘n Pawpaw vir my Darling, was my verwagting vir Roets se film hierdie jaar ‘n bietjie onseker, maar my gemoed toe ek by die teater uitloop ná die vertoning van Hoener met die Rooi Skoene was rustig, heel gelukkig en die fliek het my baie vermaak. Soveel só dat nuwe persepsies gevorm is oor baie vooropgestelde aspekte van die Afrikaanse komiese filmbedryf.

Lizz Meiring by die Premiere van Hoener met die Rooi SkoeneMoenie geflous word deur te dink dat die lokprent al die interessante tonele weggee nie – die film het baie meer om die lyf as wat mens aanvanklik dink. Die lokprent doen die film glad nie gestand nie. Eerstens, vertoon die lokprent die uitmuntende spel van Lizz Meiring glad nie genoeg om die kyker bekend te stel aan die rol wat sy vertolk nie. Meiring vertolk die rol van Bonnie van der Byl, ‘n babbelende ontvangsdame by De Waal teater-agentskap, wat die hele storie ‘n unieke persoonlikheid gee.

Vir my was die rol van Meiring haar beste nog, maar dit kan wees omdat ek nie mal is oor verspotte rolle nie. Meiring speel ‘n rol wat honderd present doeltreffend die karakter uitbeeld. Hierdie is ‘n eienskap wat nodig is om die storie te laat werk. Bonnie is ‘n onskuldige, effens naïewe vroutjie wat doelbewus op die regte spoor is om ‘n moord op te los, maar onbewus is van wat die regte plan van aksie is om so te maak. ‘n Mens raak so lief vir Bonnie, en dit is waar die veelsydige talent van Meiring ‘n kolskoot tref.

Louw Venter by die PRemiere van Hoener met die Rooi Skoene

Ja, ek het gepraat van die oplos van ‘n moord. Hoener met die Rooi Skoene handel oor die moord (of is daar moorde?) wat gepleeg word in ‘n klein dorpie. Dit is ‘n komedie, dit is ‘n drama, en dit is ‘n spannings riller in Afrikaans. Dit het my baie laat dink aan die verhoogstuk deur Agatha Christie, The Mousetrap, waar die draaiboek so geskryf is dat elke liewe karakter op een of ander stadium verdink word van die moord, om ten einde verras te word as die identiteit van die ware moordenaar geopenbaar word.

Die vloei van die storie in hierdie film is maklik en dit verg geen inspanning by die kyker om die verloop van gebeure te volg nie. Die regie en spel is op so ‘n manier vervaardig, dat die film self ‘n Afrikaanse klassieke gevoel aan die kyker oordra. Om die kyker in die regte stemming van elke toneel te sit, het Roets gebruik gemaak van doeltreffende spanningsmusiek, effektiewe lighartige musiek, en ander effekte wat dit vir die kyker baie maklik maak. Vir my was die finale produk van Hoener met die Rooi Skoene ‘n groot sukses.

Andre Weideman by die Premiere van Hoener met die Rooi SkoeneWat my vroeg in die film bygeval het, was hoe effektief Roets die karakters, toneel en toon van die film aan die kyker bekend gestel het; ‘n kekkelende, skinderbek Bonnie wat met ‘n humoristiese ondertoon met haar vriendin Katy oor die telefoon praat. Met ‘n titel soos Hoener met die Rooi Skoene, verwag ‘n mens ‘n komedie, mens mag tot aanneem dit ‘n slapstick produksieis, net om dan aangenaam verras te word met hierdie toneel.

Die rolverdeling, met eerste indrukke van die spelers, is effens verwarrend, want hoe kan jy iemand soos Louw Venter in ‘n ernstige speurder rol sit, asook iemand soos Andre Weideman as ‘n verstrooide konstabel? Maar hierdie aanvanklike verwarring, dra by tot maar net een van die groot verrassende elemente, waarvoor daar baie te sorg voor is in hierdie rolprent. Weideman speel die rol van konstabel Mickey Mentz en vertolk die rol uitmuntend.

Dis maklik om te sê iemand is ‘n goeie akteur, maar vir my is iemand ‘n goeie akteur as hy of sy die karakter kan uitbeeld, soos dit in die kop van die skrywer op daardie tydstip bedoel is. Weideman doen dit perfek. Dieselfde kan gesê word van elke speler in die spel. In die geval waar die persoonlikheid van die karakter ‘n kardinale rol speel in die effektiwiteit van die storie, is Weideman, Venter en Meiring se spel in die kol.

Lida Botha en haar man Johan by die Premiere van Hoener met die Rooi SkoeneNeem hierdie einskappe verder en jy kry die baie belangrike vonk wat nodig is tussen die hoofspelers. Wie sou kon dink dat die interaksie tussen Meiring en Venter so doeltreffend kon wees?  Kaptein Hendrik Greyling (Venter) word erken deur Bonnie van der Byl (Meiring).

Die twee was saam op skool in hul jong dae. Hierdie destydse vriendskap tussen Bonnie en Kaptein Greyling was die tema van die interaksie tussen diè twee karakters, wat dit vir Bonnie so natuurlik gemaak het om in te meng en self die speurwerk te probeer doen. Wat ookal die toon van die dialoog tussen die twee karakters, die vonk tussen Meiring en Venter het dit laat werk.

Die res van die spelers, soos ervare akteur op die piek van sy loopbaan, Deon Lotz, benoemde veteraan aktrise Lida Botha, asook die aandtreklike Dorette Potgieter, laat nie op hulle neerkyk nie. Ondersteunde rolle deur Laré Brink, Geon Nel en Flip Theron, sorg vir die speel van karakters waarmee die kyker gemaklik voel. Spesiale verskynings deur Anton Goosen en Solly Philander, dra ook by tot die realistiese industrie, waarin De Waal TeaterageDeon Lotz en Dorette Potgieter by die Premiere van Hoener met die Rooi Skoenentskap homself bevind.

Hierdie flim is eerlikwaar die ideale geleentheid om jou eie rooi skoene aan te trek, iemand spesiaal saam te sleep fliek toe om van die nuwejaarsblues ontslae te raak. Hoener met die Rooi Skoene is pure vermaak en genoeg om weer trots te voel op waartoe ons Afrikaners in staat is.
Wees net bedagsaam, en moet tog nie die einde van die film weg gee nie. (Spoiler alerts is nie cool nie.)

Hoener met die Rooi Skoene was ons eerste voorskou vir 2017, asook die eerste Afrikaanse film wat hierdie jaar op die silwerdoek gaan wys. Dit stel die standaard hoog vir die res van die plaaslike produksies wat hierdie jaar op ons wag. Hoener met die Rooi Skoene begin Vrydag, 27ste Januarie landswyd draai.

 

Hierdie resensie is geredigeer deur Teresa Coetzee.  Fotos: Louw Mulder.  Vir Meer fotos van Hoener met die Rooi skoene se Premiere, kliek hier.

 

#

Comments are closed.

Scroll To Top