We are Proudly South African
Home / SA Music / Female Artists / Elme Churr: Jy Maak Dit Moeilik

Elme Churr: Jy Maak Dit Moeilik

Elme se nuwe snit gaan die liefde laat blom.

Die sangeres   Elme Churr se splinternuwe enkelsnit, Jy Maak Dit Moeilik, is pas uitgereik, en dit is ’n snit wat so na aan haar hart lê.

Dié liedjie, wat oor die liefde handel en oor daardie Sondagaand – gevoel, wanneer niks jou na iets laat verlang nie, is geskryf deur Vaughan Gardiner en sy vrou, Nerine Gardiner. Elme verduidelik dit gaan oor daardie een persoon wat dit moeilik maak om sonder te wees. Die storie is kinderlike opgewondenheid, geluk en verlange binne konteks van die liefde, in ’n verhouding.

Elme en Vaughan het vooraf vergader en gesels oor die rigting van haar volgende paar enkelsnitte, asook die album in geheel. Dit is toe duidelik dat folk/pop die rigting sal wees. Met groot opgewondenheid het Nerine en Vaughan die projek aangepak. Vaughan sê dat inspirasie organies ontkiem het uit Nerine se hart en dat hul geïnspireerd was deur die rigting waarop hul besluit het vir die album, sowel as Elme se unieke stem.

Volgens Elme het die liedjie haar gekies, in plaas daarvan dat sy die liedjie gekies het. Sy voeg by dat die lied haar na aand die hart lê omdat sy in haar nabye kringe hierdie liefde kan sien en voel, soos in haar eie huwelik en haar vriende s’n. Elme sê dat die publiek opgewonde en positief oor die liedjie gaan wees, omdat dit ’n vars uitkyk is op dit wat werklik saak maak, met ’n energieke interpretasie, in ’n vrolike stemming.

Die lied se lirieke resoneer diep binne in jou hart, maar is ook net lekker luister – musiek, ongeag die stemming, wat elke luisteraar sal aanspoor om net vir ’n oomblik te kan ontspan, luister en glimlag.

’n Musiekvideo vir die liedjie is ook reeds opgeneem deur Francois Slabbert, maar Elme wil nie te veel daaroor verklap nie. Sy sê wel dat haar man en beste vriendin in die video te sien is en dat dit binnekort uitgereik word.

Die musiekbedryf het haar geleer om konstant innoverend te wees, maar tog eg, in wie sy werklik is. Oor haar grootste uitdaging vertel sy van selftwyfel wat haar oorval het, veral toe sy haar eerste paar liedjies self moes skryf. Sy bieg dat sy werklik nie geweet het waar om te vat en waar om te los nie. Sy noem verder dat dit haar geleer het dat dissipline, uithouvermoë en ’n konstante ritme van probeer, die gelyke is van sukses. Elme is tans besig om aan haar nuwe album te werk en hoop om dit vroeg in 2019 vry te stel.

Haar planne vir die toekoms is om soveel as moontlik mense te bereik met haar musiek en dan sal sy ook graag in die Royal Albert Hall wil optree. “Die belangrikste vir my is om mense se lewens te verryk en ’n verskil te kan maak”, sluit sy af.

#

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

 

Scroll To Top