We are Proudly South African
Home / SA Music / South African Duo's / Douvoordag: Die Avontuur

Douvoordag: Die Avontuur

Ilse en Jattie se Debuut-Album is ‘n Luister-Avontuur…

Douvoordag, Ilse en Jattie de Beer se debuut-album, Die Avontuur, is vroeg in Oktober 2018 via alle digitale platforms uitgereik en het onmiddellik die nommer een posisie op iTunes ingeneem!

Hulle nuutste enkelsnit, Manifes, kan ook reeds op talle radiostasies landswyd gehoor word en die musiekvideo van hierdie ongelooflike treffende liedjie beklee ook tans die nommer agt posisie op die gewilde kykNET Top20.

Musiekliefhebbers ken reeds geruime tyd al hulle unieke klank. Nie net is uittreksels van twee van hulle liedjies gebruik in die klankbaan van die gewilde Afrikaanse fliek, Mooirivier nie, maar hulle eerste twee enkelsnitte, Uitsig en Desembers, was ook onderskeidelik op die Afrikaans is Groot Volume 8 – en Afrikaans is Groot Volume 9 -albums ingesluit. Nog ʼn snit, Skrapnel, is ingesluit op die In Afrikaans Volume 1-album en Hande vat, die temalied van die TV-reeks, Dorpsdraai, ook deur Jattie geskryf, was ook ingesluit op die In Afrikaans Volume 2-album.

Jattie, ’n baie begaafde liedjieskrywer, skryf ewe gemaklik in Afrikaans en Engels, en vir enige musikale genre. Daarvan getuig die groot aantal baie uiteenlopende kunstenaars wat al van sy liedjies opgeneem het, onder meer Louis Brittz, Zak van Niekerk, Len Muller, Dans Dans Lisa, Izak Davel en Leon Gropp, om net ’n paar te noem. Hy het ook onlangs help skryf aan snitte vir nuwe opkomende albums van Jo Black, Touch of Class en Roan Ash.

Ilse het al vir Merchant Music, Coleske Artists en die Atterbury Teater gewerk en was ook betrokke by produksies soos Afrikaans is Groot, die Ghoema Musiektoekennings, Gospel Skouspel, Innibos se hoofverhoogproduksies en die In Afrikaans Hartenbos konsertreeks.  Sy is tans deel van die bemarkingspan by die groep maatskappye Inhoud Huis Musiek, In Afrikaans en Flagship Productions, wat verantwoordelik is vir kunstenaars soos onder andere Robbie Wessels, Jo Black, Appel en Roan Ash.

Douvoordag het hulle album onlangs voor ’n stampvol gehoor by die Atterbury Teater bekendgestel. Dié bekendstelling was bygewoon deur talle bekendes soos Riana Nel, Robbie Wessels, Kaleidoskoop, Roan Ash, Simoné Nortmann Johan Vorster. Hulle album word nou landswyd vrygestel in samewerking met Inhoud Huis Musiek met verspreiding deur Universal Musiek.

Die Avontuur is nou verkrygbaar op digitale platforms en sal binnekort in goeie musiekwinkels beskikbaar wees.

#

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

 

Scroll To Top