We are Proudly South African
Home / Interviews / Ons Praat met Desirè Gardner

Ons Praat met Desirè Gardner

Van Daleen tot Carmen, is maar nog net die begin.

deur Louw Mulder

Almal het lief geraak vir verpleegster Daleen Jonker, Pippa se beste vriendin, Nina se ma, en natuurlik Dokter Tertius Jonker se vrou.  Netso, was alle Binneland-liefhebbers baie ongelukkig toe Daleen uit Pretoria uit trek.  Ter vieringe van Binnelanders se 3000ste episode, het ek kans gehad om met Daleen se rolvertolker te gaan gesels.

Desirè Gardner het die rol van Daleen Jonker, vroeër Oosthuizen, gespeel. “Daleen se karakter was ‘n sterk, dog neurotiese vrou wat as gevolg van liefde baie foute gemaak het,” het Desirè aan my vertel.  Daleen was ‘n karakter wat Desirè van 2008 tot 2015 haar eie gemaak het.

“My man is verplaas na Kaapstad toe en ‘n langafstand verhouding is ongelukkig net te moeilik vir my,” het sy vertel. Sy het ook gesels oor hoekom haar tyd by Binnelanders tot ‘n einde moes kom: “Die lewe het ons in ons volgende hoofstuk geplaas, en so het die dinge gebeur.” Met die verhuising saam met haar gesin na die Moederstad toe, het Desirè ‘n rol gekry in ‘n ander kykNET sepie, Suidooster, waar sy tans die karakter van Carmen vertolk.

Desirè Gardner as Daleen Jonker in BinnelandersSuidooster is baie dieselfde as Binnelanders in die sin dat mense deel van ‘n familie voel,” vergelyk Desirè die twee sepies met mekaar. Daleen, haar karakter in Binnelanders, en Carmen, haar rol in Suidooster, verskil wel baie, maar Desirè erken dat sy baie by Suidooster leer, en dat sy dit ook geweldig geniet om van ander kulture te leer. “Ek is dankbaar en geseënd om by projekte soos Binnelanders en nou by Suidooster betrokke te wees”, het sy aan my vertel.

Binnelanders het ongelooflik baie vir Desirè beteken: “Dit was ‘n ongelooflike leerskool, ‘n platform waarvoor ek altyd dankbaar sal wees, met ‘n klomp mense wat ek altyd sal mis,” sê Desirè. Vir haar is daar baie hoogtepunte wat sy na aan die hart dra: “My finale toneel sal altyd spesiaal bly, want ek het daardie dag vir my ander familie totsiens gesê. Ek het my tonele met Reynardt Hugo, Je-ani Swiegelaar en Nadia Valvekens veral baie geniet. Daai tye wat mens soms wil lag maar nie mag nie, sal my ook altyd by bly.”

Vir Desirè, is die doel van ‘n sepie in vandag se televisiebedryf, een van ontvlugting: “Mense het nodig om die alledaagse drama en hartseer, en soms verveling van hulle eie lewens, te ontvlug met iemand anders se storie,” verduidelik sy: “Mense hou ook daarvan om met iemand anders te vereenselwig en te identifiseer.”

As dit kom by dit wat Desirè Gardner tydens Binnelanders geleer het, is daar baie wat sy kan vertel: “Ek het basies alles wat ek vandag weet van ‘n multicam daar geleer. Ek het geleer om altyd professioneel te wees. ‘The show must go on’, tensy jy met ‘n drip in die hospitaal lê,” lag sy en vertel verder: “selfs dan, kan jy ‘n plan maak.” Die veelsydigheid om as aktrise met verskillende regisseurs te werk, hulle te leer ken, en die dinge toe te pas al sou dit met haar verskil, is iets wat Desirè uitlig: “Ek het by Binnelanders net so baie by my mede-akteurs geleer.”

 

 Aan Binnelanders vir julle 3000ste Episode:

“Welgedaan aan elke liewe een. Veral diegene wat van Episode 1 af daar was. Dis ‘n ongelooflike produk waaraan julle werk en ek kan nie wag vir die volgende 3000 episodes nie. Welgedaan aan die skryfspan wat aanhou om exciting stories te vertel, die akteurs wat die karakters interessant hou en die crew wat elke dag mooi prentjies maak.”  – Desirè Gardner.

 

Die Taalversorging van hierdie onderhoud is behartig deur Christa Steyn
#

Comments are closed.

Scroll To Top