We are Proudly South African
Home / Male Artists / Deca: Black Sails

Deca: Black Sails

Nuwe Instrumentele Musiekgroep laat musiekharte warm klop

Die splinternuwe musiekgroep, DECA, se treffende snaarverwerkings het sommer uit die staanspoor harte, regoor die land, verower. Die vars, moderne en sjarmante manier waarop hulle nuwe en ou gunstelinge verwerk en interpreteer, is die sleutelbestanddeel agter hulle kitssukses en laat hulle musiek aanklank vind by jonk en oud.

Hulle debuutalbum, Black Sails, bou voort op hierdie wenresep en beloof om nie teleur te stel nie. Die nuwe album is ’n mengsel van instrumentele-, pop-, folk- en Ierse musiek. Die hooffokus is die viool, met sterk ondersteuning deur die akoestiese kitaar,” vertel hulle. “Die CD is ’n kombinasie van vinnige, opgewekte deuntjies en stadiger, strelende snitte. Dit sluit ’n paar nuwe en ander gewilde treffers in.”

Die duo bestaan uit ervare musikante, Herman Steyn (op die viool) en Douw Steyn (kitaar) wat saam al meer as ses-en-twintig jaar se ondervinding in die musiekbedryf het. Hulle is ook die eienaars van die platemaatskappy, Son Records, wat in 2015 gestig is. DECA is gebore uit hulle gereelde saamspeelsessies en unieke folk-aanslag, wat baie goed deur gehore ontvang is. Die groep het ook reeds die verhoog met bekende kunstenaars gedeel en by verskeie funksies, bekendstellings en feeste, wat Aardklop insluit, opgetree.

Tien sorgvuldig uitgesoekte snitte, wat in DECA se styl omtower is, sal jou hartsnare prikkel en jou onwillekeurig laat saam neurie soos wat jy van die bekende wysies herken. “Ons het vir jare lank informeel opgetree en sodoende ’n goeie idee gekry waarvan mense hou. Wat die album uniek maak is natuurlik dat daar nie lirieke is nie, maar ook dat dit nie ’n klassieke album is nie. Dis luistermusiek, dansmusiek en herkenbare melodieë. Dit gee die luisteraar geleentheid om gunsteling-poptreffers, soos Wrecking Ball, op ’n heeltemaal ander manier te hoor.”

Black Sails, wat verwerkings van bekende treffers (Thousand Years, Love Me Like You Do, ensovoorts) bevat, spog ook met oorspronklike komposisies uit die groeplede se eie pen (Picnic, Black Sails, Finnigan en Skylights). Uit ’n emosionele oogpunt, is Picnic ons gunsteling omdat ons beide baie van filmmusiek hou en baie waardering het vir klassieke musiek. Herman se pa was ’n operasanger en my ma die klassieke komponis, Chirsta Steyn. Ek dink luisteraars kan uitsien om te hoor hoe ons nuwe identiteit aan bekende liedjies, soos Firework, gee. Hulle sal ook die Ierse klanke van Black Sails en Finigan geniet, wat lekker partytjiemusiek is,” verklap Douw.

Volgens die snaarpaar was die grootste uitdaging, tydens die vier maande waarin die album opgeneem is, om snitte te kies wat sterk genoeg is om luisteraars se aandag te trek. Omdat ons musiek net uit instrumente bestaan, was dit vir ons baie belangrik dat elke titel op die album baie sterk en onthoubaar is. Daar is dus heelwat tyd bestee aan die regte liedjiekeuses,” sê hulle.

DECA het nog baie planne vir die toekoms, wat musiekvideo’s en ’n oorsese toer insluit, en sal graag nog saam met musikante soos Elvis Blue en Joshua na die Reën wil werk. Daar is natuurlik ook baie ander treffers wat hulle graag wil opneem en ’n tweede album word vir die einde van die jaar beplan. Maar vir nou werk hulle eers hard daaraan om die huidige projek te bemark en musiekliefhebbers se harte met hulle unieke talent te verower.

Die duo het eers in 2014 ontmoet en uiteindelik ’n platemaatskappy saam met William De Bruin begin. Hulle is tans besig met die finale meng van twee televisieprojekte en is gereeld opsoek na nuwe talent om onder hulle vlerk te neem.

Die aanslag van DECA se album is vars en nuut en hopenlik ’n goeie aanduiding van die instrumentele meesterstukke wat ons nog in die toekoms van hulle kan verwag.

#

Comments are closed.

Scroll To Top